03 Oktober: Christene het ‘n ander toekoms. – Jan van der Watt

1 Thes 4:13-5:5 (fokus 5:1-5)

 Christene is toekomsmense. Dit is een van die dinge wat Christene anders maak as ander mense. Christene glo nie in reïnkarnasie waar jy doodgaan en dan maar net weer na dieselfde lewe toe terugkom om op hierdie ou aarde voort te sukkel nie. Ons glo ook nie dat ons soos ‘n klomp geeste iewers in ‘n skaduweebestaan die ewigheid gaan verslyt nie. Nee, die Christen het ‘n ander toekoms, ‘n heerlike toekoms saam met God.

Jesus het die toekoms vir elke Christen moontlik gemaak toe hy die deure van die dood oopgebreek het. Vir almal wat in Hom glo sluit die dood jou nie vir ewig toe nie, maar is die dood net die pad deur na die ewige lewe by God. Die deure wat jou sou keer is deur Jesus oopgebreek, jy kan maar deurstap.

Maar dit is nie net ‘n mooi boodskap vir dooies nie. Jesus kom sy mense, dood of lewend, spesiaal haal. Een of ander tyd gaan die wêreld se voordeurklokkie lui en dan is Jesus daar. Daarom moet Christene elke dag met die oog op die toekoms leef. Dit moet dag vir dag in hulle agterkoppe wees: Jesus kom weer en as Hy kom moet ek reg wees. Hy moet my nie onkant vang nie. Die Here wil my nie gaan soek op plekke waar Hy nie wil kom nie of uit ‘n huwelik gaan haal waar Hy Homself gaan skaam om in te stap nie. Nee, Hy sal my besig wil kry met sy dinge. Ek moet niks hê om weg te steek nie.

As ons vergeet: “Jesus kom weer”, kan ons gedagtes maklik begin dwaal en ons voete ook. Om doodgewoon elke dag die hemel dop te hou of Jesus nie kom nie, sal jou gedagtes fokus. Dit sal jou elke dag herinner aan jou toekoms en jou motiveer om solank in daardie rigting te stap met alles wat jy dink en doen, ‘n wonderlike toekoms in.