06 Oktober: Wees paraat. – Jan van der Watt

2 Thes 2:3-17 (fokus 2:3-12)

Die eerste vraag van ‘n vasvra was: “Wie het lewendig uit die leeukuil gekom?” “Daniël” kom die antwoord. Die tweede vraag: “Wie het lewendig uit die tierhok uitgekom?” Na ‘n oomblik van stilte kom die antwoord: “Die tier”.

Daar was ‘n rede waarom Daniël lewendig uit die leeukuil uitgekom het. Die Here was by Hom en as ‘n mens naby die Here bly, hoef jy nie bang te wees nie, al voel jy die warm asem van ou maanhaar hier in jou nek. Die Here keer nie dat ons in die lewe in leeukuile beland nie, maar Hy haal ons verseker heel daaruit.

Maar as ons alleen in die tierhok instap, weg van die Here af, is dit ‘n ander storie. Paulus waarsku in 2:3-12 dat hoe nader die wederkoms van die Here kom, hoe meer desperaat gaan die duiwel probeer om mense te mislei en seer te maak. Dit is sy werk en hy het nie goeie bedoelings met mense nie. Hy wil mense net dieper en dieper in die poel van sonde inlei (2:10). Dit is regtig ‘n geval van hoe later hoe kwater.

Ons moet dus gewaarsku wees. As jy as gelowige die oggend jou voete uit die bed sit, lê die duiwel al vir jou en wag. Hy het die hele nag planne gemaak om jou uit te vang. Dit laat my nogal dink… as ‘n vriend jou kom waarsku dat hy gehoor het iemand beplan om jou te beroof, sal jy baie versigtig wees. Jy sal mooi dink oor elkeen met wie jy te doen het en gereed wees. Tog lyk dit of ons soms oop oë in die tierhok instap, al is ons gewaarsku. Ons weet die duiwel lê vir ons en wag, maar dit pla ons nie.

Ons moet geestelik gereed wees en ‘n mens word net geestelik paraat as jy naby die Here bly, elke dag, in elke situasie. Moenie jou laat uitvang nie. Dit kan gevaarlik raak as jy onbewus in daar tierhok instap!