07 Oktober: Oppas vir geestelike afpersers en bloedsuiers. – Jan van der Watt

2 Thes 3:1-18 (fokus 3:1-18)

Luther het gesê dat al weet hy die Here kom more, hy vandag nog ‘n boom sal plant. Daarmee het hy iets gesê oor die energie en positiwiteit van die gelowige. Daardie energie word aan die brand gesteek deur al die wonderlike dinge wat die Here vir ons doen en gee (3:1-5). ‘n Mens begryp dit nie altyd so goed nie, want dit is net te groot. Dit is soos ‘n ou met ‘n biljoen rand in die bank – hy kan homself nie regtig voorstel hoeveel geld dit is nie. Hy kan maar net sy bes probeer om dit te geniet. Net so moet ons maar net elke dag uit die volheid en oorvloed van die Here leef… en veral dankbaar wees daaroor. Dit is ‘n kwessie van “as God vir ons is, wie kan teen ons wees?”

Daar is ongelukkig mense wat die goedheid van die Here misbruik. Die Here moet gee en hulle neem, maar van hulle kant af kom daar niks nie. Deur ander gelowiges moet die Here vir hulle sorg, maar moet tog net nie iets van hulle vra nie. Hulle kla gedurig, is onvergenoegd, voel daar word nie genoeg aandag aan hulle gegee nie, probeer gedurig op ander se skuldgevoelens speel, vertel hoe swaar dit gaan en niemand gee eers om nie; regte brieke aan die wa. In Tessalonika was daar selfs gemeentelede wat bakhand gestaan het en die gemeente moes maar net uitdeel. Self wou hulle nie eers ‘n vinger verroer nie (3:10-11).

Nee, gelowiges moet versigtig wees vir geestelike bloedsuiers en afpersers. Opregte hulp moet altyd gegee word; daarvoor mag ‘n mens nooit moeg word nie (3:13). Maar vir geestelike afpersers moet gelowiges versigtig wees. Geestelike afpersing word uitgeken aan ‘n gebrek aan energie vir die Here. Dit is mense wat net verwag jy moet gee, maar van hulle kant af doen hulle niks.