1 & 2 Tessalonisense (1)

1 & 2 Tessalonisense (1) – Francois Malan

Paulus, Silvanus en Timoteus het elkeen ʼn aandeel aan die skryf van die twee briewe, teen 50 n.C. vanaf Korinte. Benewens vyf dankseggings vir wat die Here al in en deur die gemeentes gedoen het, word veral aandag gegee aan die gemeente se onsekerhede en vrae oor die wederkoms van Christus, die skrywers se bekommernis oor gelowiges wat nie wil werk nie, en dat hulle huwelikslewe nog nie volgens die wil van die Here is nie.

Skrywers, lesers en redes vir die briewe

Paulus en sy medewerkers, Silvanus (Silas, vroeër ʼn profeet in die Jerusalem-gemeente; Handelinge 15:22,31) en Timoteus (die vertroude dissipel uit Listra; Handelinge 16:1,2), skryf saam aan die twee briewe – amper deurgaans word ‘ons’ gebruik (uitsonderings: in I:2:18  (= 1 Tessalonisense 2:18) verwys Paulus na sy eie pogings om die gemeente te besoek ‘ek Paulus meer as eenkeer’, en in II:3:17 onderskryf hy die brief met die seëngroet ‘in sy eie hand’; vgl. ook I:3:5; 5:27; II:2:5). Hulle drie het ook saam gewerk aan die stigting van die gemeente (Handelinge 17:4,14). Dit lyk asof Silvanus, met sy kennis van die eerste gemeente se denke en in gesprek met Paulus en Timoteus, ʼn aansienlike aandeel aan die skrywe van die briewe het, wat Paulus dan met sy eie hand bevestig. Die twee briewe volg kort op mekaar, waarskynlik teen die einde van 50 n.C.

 

Paulus-hulle moes Tessalonika in die nag verlaat weens die Jode se opstand teen hulle (Handelinge 17:10; vgl I:3:4.). Besorgd oor die standvastigheid van die vervolgde gelowiges, het hulle vir Timoteus van Atene af gestuur om die Tessalonisense in hulle geloof te versterk en te bemoedig. By sy terugkoms kry Timoteus vir Paulus-hulle in Korinte. Die eerste brief word geskryf nadat Timoteus terug is met goeie nuus oor die gemeente se standvastigheid in die Here. Omdat die Satan hulle verhinder, kan hulle nie self na die gemeente toe kom om tekortkominge in die gemeente se geloofskennis aan te vul nie. Daarom skryf hulle aan die gemeente (I:3:1-10; vgl. Handelinge 17:16; 18:5). Die gemeente bestaan in God die Vader en die Here Jesus Christus as die sfeer waarin hulle lewe; met die vrye genade van hulle Vader wat sorg, en van hulle Here wat oor hulle lewens regeer, as die bron van hulle geseënde lewe, wat tot vrede met God en met mekaar lei (I:1:1; II:1:1,2).

 

In vyf gedeeltes word God met blydskap gedank: (altyd en sonder ophou in hulle gebede) vir die gemeente se geloof, liefde en hoop (I:1:2-10; 2:13-16; 3:6-9; II:1:3-10; 2:13-14).

1.        Vir die hele gemeente se geloofsdade (I:1:3)

God het hulle uitgekies vir verlossing: hulle is deur die Gees aan God toegewy deur die waarheid van die evangelie te glo, wat hulle onder verdrukking met blydskap aangeneem het (I:1:5,6; II:2:13). Hulle het die woorde van Paulus-hulle aangeneem as die woord van God, wat tans in hulle voortwerk (I:2:13). Hulle het weggebreek van die dooie, valse afgode, om die lewende en ware God te dien, soos slawe wat volledig aan Hom behoort (I:1:9). Toenemend  groei hulle geloof (II:1:3). Die woord van God het soos ʼn trompetgeskal van hulle af weerklink; hulle geloof het bekend geword in Masedonië en Agaje, en orals word vertel hoe hulle vir Paulus en sy medewerkers en hulle boodskap aangeneem het (I:1:7-9). Onder vervolgings en verdrukking staan hulle vas in die geloof, en groei toenemend in die geloof (I:3:6-9; II:1:3,4).

2.       Vir die vrug van die gemeente se liefde vir mekaar (I:1:3; II:1:3)

God en die Here Jesus het hulle lief, het hulle uitgekies om gered te word, en het hulle geleer om mekaar lief te hê (I:1:4; 4:9; II:2:13). Die vrug van hulle liefde word gesien in die wyse waarop hulle die boodskappers ontvang het, en deur die Heilige Gees vreugdevolle navolgers van Paulus-hulle en van God se liefde geword het, tot voorbeeld vir ander gelowiges (I:1:3-9). In I:3:12 bid die skrywers dat die Here hulle liefde vir mekaar en vir alle mense laat groei en oorvloedig laat word, en in II:1:3 dank hulle God dat die gemeente se liefde vir mekaar steeds toeneem.

3.       Vir die volharding in lyding, met hulle hoop op ons Here Jesus Christus (I:1:3)

Te midde van baie lyding en vervolging verwag hulle uit die hemel die Seun van God, wat Hy uit die dood opgewek het. Dit is Jesus (sy naam beteken ‘die Here red’), ons Redder uit die straffende toorn van God, wat aan die kom is (I:1:10). Die Jode het Jesus en die profete doodgemaak, die gemeentes in Judea vervolg, vir Paulus-hulle orals uitgedryf, ook uit Tessalonika (vgl. Handelinge 17), om te verhinder dat alle volke gered word. So loop die Jode se beker vol met die toorn van God oor hulle sonde. Op dieselfde wyse ly die gemeente in Tessalonika onder vervolging deur hulle eie mense (I:2:14-16). Die skrywers praat met trots oor hulle in al die gemeentes van God, en vertel van hulle vermoë om uit te hou onder al die vervolgings en lyding wat hulle verduur (II:1:4). God het hulle van die begin af gekies en deur Paulus-hulle se evangelie-verkondiging geroep om gered te word, deur die Gees hulle lewe aan Hom toe te wy, om die waarheid te glo, en om deel te hê aan Christus se heerlikheid by sy koms (II:2:13-14).

 

Outeur: Dr Francois Malan