1 Januarie – Daar’s plek vir jou! – Jan van der Watt

Lees: Mat 1:1-25 (fokus: 1:3-6)

My verhaal oor Jesus Christus begin met sy geslagsregister. Daarin staan die name van sy voorouers.’ (1:1)

 

Van ʼn boek wat met ʼn lys name begin verwag ʼn mens waarskynlik nie veel meer as van ʼn telefoonboek nie. Tog begin God se Goeie Nuus so. Maar God wil met sy lys name ʼn boodskap vertel… In die ou tyd was geslagsregisters soos ʼn familie-barometer waarmee ʼn mens kon meet hoe goed of sleg iemand is – die bloed wat in sy are vloei het hom gemaak wat hy is. En sy geslagregister het jou vertel hoe daai bloed lyk.

Jesus se aardse geslagregister vertel ons ook ʼn bietjie van wie Hy was – koninklike bloed (díe van koning Dawid) vloei vrylik in sy are. Groot name van die leiers van die volk soos Abraham, Salomo en Jakob versier die lys.

Maar dit is die onverwagte name wat ons daar kry wat ons verras… soos die name van sekere vroue. Dit was nou nie eintlik name wat die mense van destyds in enige geslagsregister wou gehad het nie en as jy dit gehad het, sou jy dit graag wou wegsteek. Maar nie Jesus nie.

Hierdie vroue was nie kroonprinsesse of uitstygers nie. Om die waarheid te sê, daar het maar groot vraagtekens oor elkeen van hulle gehang. Die een het haar skoonpa verlei (Tamar – 1:3), die ander een was ʼn vrou van die nag (Ragab – 1:5) en die stories van Rut (1:5) en Dawid en die mooie Batseba ken ons (1:6). Een ding het hierdie vroue egter saamgebind en laat uitstyg bo alle ander – hulle onverdeelde lojaliteit teenoor die Here. Elkeen het op haar eie manier onvoorwaardelik haar lewe vir God “gegee” sonder om vrae te vra… kyk maar na Maria ook (1:16).

Nou kan ons verstaan waarom Jesus name in sy geslagsregister het wat ons miskien sou systap, name soos Tamar of Ragab… dit is omdat die bloed van onverdeelde liefde vir die Koning van die konings deur hulle are vloei.

Weet jy, as daar plek vir hulle is, is daar ook plek vir jou, maak nie saak wie jy is of wat jy gedoen het nie, solank die bloed van onverdeelde liefde vir God in jou are vloei. Jy sal weet of dit so is.