1 Julie: Sonder jou is die evangelie ‘kragteloos’. – Jan van der Watt

Rom 10:1-21 (fokus 10:14-21)

Die evangelie kan nie werk sonder jou nie. Jy is deel daarvan. En die rede is eenvoudig: Hoe kan mense in die Here glo as hulle nog nooit van Hom gehoor het nie? En hoe kan hulle van Hom hoor as niemand nog vir hulle vertel het nie? En hoe kan daar iemand wees wat vertel as niemand bereid is om die evangelie te verkondig nie? DUS, sonder jou wat vertel, is daar nie vir die mense rondom jou ‘n evangelie nie.

En dit is nie regtig so moeilik om jou deel te doen nie. Dit is amper soos om in ‘n myn as plofstofdeskundige te werk. Jy moet net die stukkies dinamiet op die regte plekke sit en die res aan die dinamiet oorlaat. Dit is nie jy wat daar rotse moet laat stukkend breek nie – dit sal die dinamiet doen.

Dit is miskien die eerste fout wat ons maak. Ons dink ons moet mense se lewens verander. Nee, dit kan ons gerus aan die krag van die evangelie oorlaat. Jou taak is net om te sorg dat die evangelie op die regte plekke uitkom, daar waar mense se harte nog so hard soos klip is.

Die tweede fout is om te dink dat ons ‘n drom dinamiet vir een hart van klip nodig het. Nee, soms is dit net een woord, ‘n klein stukkie getuienis, die regte voorbeeld wat die verskil maak. God spesialiseer om met min baie te maak. Hom kan ons vertrou.

Wat ‘n wonderlike voorreg: jy is deel van die ontploffing van God se evangelie in die wêreld. Vat jou dinamietstokkies vandag saam met jou.