1 Korintiers (3)

1 Korintiërs (3)

 

Aanleiding tot die brief

Op sy tweede sendingreis, tydens ʼn verblyf van 18 maande, stig Paulus die gemeente in Korinte, die groot handelstad in Agaje, (Julie 50 – Maart 52; vergelyk Handelinge 18:11).

Op sy derde sendingreis werk Paulus vir drie jaar in Efese (somer 52 – Pinkster 55; vergelyk Handelinge 19:1-20; 20:31). Die verhouding tussen hom en die gemeente in Korinte raak gespanne oor ʼn aantal sake wat hy met drie briewe en ʼn blitsbesoek vanuit Efese probeer aanspreek (1 Korintiërs 15:32). In die eerste, ‘vorige’ brief skryf hy dat die gemeente nie met sogenaamde gelowiges moet omgaan wat onsedelik, geldgierig, of afgodedienaars, kwaadpraters, dronkaards of bedrieërs is nie (1 Korintiërs 5:9-11). In sy tweede brief, naamlik 1 Korintiërs, word al dié sake weer aangesny. Toe die verhouding nog verder versleg, besoek hy Korinte, maar dit loop uit op droefheid (2 Korintiërs 2:1) en hy stuur sy derde, ‘die trane’ brief saam met Titus (2 Korintiërs 2:9; 7:8,12), wat die verhouding herstel (2 Korintiërs 7:6,7,13-16).

In Efese ontvang Paulus nuus van Chloë se handelsreisigers oor die verdeeldheid in die gemeente in Korinte (1:11), kry ʼn skriftelike antwoord op sy eerste brief (7:1) en ontvang besoek van gemeentelede (16:17). Sostenes skryf neer wat Paulus vir hom voorsê, en Paulus sluit 1 Korintiërs af in sy eie handskrif (1:1; 16:21).

Verdeeldheid in die gemeente deur hulle roem op eie wysheid en geestelikheid (1-4)

Na die seëngroet en dank aan God vir die rykdom van sy gawes aan die gemeente, veral die gawes van woord en kennis (1:4-7), is Paulus teleurgesteld dat hulle trots misbruik daarvan maak, asof hulle dit nie ontvang het nie (4:7).

Omdat hulle hooghartig is oor hulle eie wysheid en geestelikheid, twis hulle onder mekaar, die gemeente is verdeeld oor leiers, en hulle sien neer op Paulus se evangelie-verkondiging. Christus is tog nie in stukke geskeur nie! Sy kinders behoort daarom tot ʼn eenheid aanmekaar geweef te wees (1:10-17).

God se liefdeskrag word geopenbaar deur Jesus wat aan die kruis vir ons sterf. Vir die Jode wat wonders vra om te kan glo, is dit swakheid. God se wyse verlossing deur sy offer van Homself aan ʼn kruis, is weer ʼn dwaasheid vir die Grieke, wat die sin van die lewe in menslike wysheid soek. In sy wysheid het God juis die veragte, swak dwase in Korinte geroep sodat Hy hulle verhouding tot Hom regstel deur hulle verbondenheid aan die gekruisigde Christus, hulle vir Hom heilig, en van hulle sonde verlos (1:18-31). Die kern van Paulus se boodskap is Christus wat vir ons gekruisig is, wat Paulus in swakheid vir hulle gebring het, sodat hulle sou glo nie omdat Paulus se welsprekendheid hulle oortuig het nie, maar omdat die krag van God se Gees hulle tot geloof in Christus gebring het en steeds in Hom laat glo (2:1-5).

God het sy Gees aan die gelowiges gegee om hulle oë te open vir die diepe wysheid van God se verlossing deur Christus se kruisdood. Daarom lewe hulle, en beoordeel hulle alles vanuit Christus se liefde, wat met selfverloëning ander dien (2:6-16).

Die verdeeldheid in die gemeente bewys egter dat hulle nog klein kindertjies in die geloof is, wat met melk gevoer moet word, omdat hulle nog nie die Gees se leiding volg nie, maar dink dat hulle ‘geestelik’ is (3:1-4). Die apostels is bloot dienaars aan wie God spesifieke take gee. Om oor húlle te spog, is dwaas. Die gemeente is God se saailand, en God laat die saad groei. Paulus het die gekruisigde Christus as die enigste fondament van God se gebou gelê, en elke bouer se werk moet daarby pas. Elkeen se werk sal met vuur getoets word, want die gemeente is God se tempel waarin sy Gees woon om hulle aan Christus alleen te verbind, nie aan sy werkers nie. Bouwerk wat nie by die gekruisigde Christus pas nie, gaan tot niet, hoewel die bouer uit genade gered sal word. Hy is die Regter wat alles deursien. Alles wat ons het, kom steeds van God. Moenie daaroor roem asof dit uit jou self kom nie. Ons kan slegs dankbaar lewe teenoor die Gewer en sy Gawe (3:5-4:7).

Die Korintiërs roem dat hulle reeds in hierdie bedeling wys, sterk en geëerd is. Dit is ʼn valse geestelikheid. Die apostels se nederige lewe wys dat die Gees ons tot nou toe aan die kruis van Christus se lyding, dwaasheid, swakheid en skande verbind. As hulle geestelike vader doen Paulus ʼn dringende beroep op hulle om sy lewenswyse in gemeenskap met die gekruisigde Christus, na te volg (4:8-21).

Skrywer: Dr Francois Malan