1 Mei: Jou lewe in ritmiese pas met God. – Jan van der Watt

Joh 8:12-47 (fokus 8:21-30)

Nou die dag land ons in ʼn bergpas agter ʼn motorfiets, een van daai grotes. Ons kon die twee motorfietsers lank voor ons dophou, want die pad was maar draaierig en ons kon nie verbygaan nie. Dit was ʼn pa en sy seun. Beide het sulke ronde Harley Davidson harde hoede opgehad en beide het jeans met ʼn leerbaadjie aangehad. Dit was nie al nie, as die pa sy bene rek, skiet die seun s’n ook uit. As die pa vorentoe buk, buk die seun ook. Soos die pa, so die seun.

Dit is waarvan Johannes praat as dit by gehoorsaamheid aan God kom. In 8:29 sê Jesus dat Hy maar altyd net sy bes vir sy hemelse Vader doen. Hy praat van daai soort  gehoorsaamheid wat God volg sonder teëpraat en vrae; die gehoorsaamheid wat God se wil soek en dit doen.

Daarmee het Jesus vir ons ‘n voorbeeld gestel wat ons moet volg. Om al ons draaie van ons lewensreis moet ons leer om God so dop te hou, soos die seun op die motorfiets sy pa dopgehou het. Soos God, so ook jy. As ‘n mens mooi gekyk het, sou jy agtergekom het dat die seun nie kon sien wat voor aangaan nie – hy het in sy pa se rug vasgekyk. Hy het nie geweet wat kom nie, maar sy pa het. Daarom het hy geweet dat as sy pa sy lyf eenkant toe gooi, hy dit ook moet doen, tensy hy van die motorfiets wou afval. God sien verder as ons. Daarom moet ons doen wat Hy doen, sy “bewegings” in hierdie lewe volg. So sal ons lewe in ʼn ritmiese pas met God se wil kom! Jesus het ons gewys hoe.