1 Petrus 1:20

1 Petrus 1:20 – Francois Malan

Willie vra:

My vraag handel oor 1 Petrus 1:20. As n mens die gedeelte vanaf vers 17 lees dan gaan dit hier oor ons lewe van dankbaarheid teenoor God omdat Hy losgekoop het deur Christus se bloed. Christus het dus vir ons verlossing verdien met Sy bloed aan die Kruis. Wat ek graag beter wil verstaan is hoekom God Hom reeds voor die skepping hiervoor bestem het. Het God dan reeds voor die skepping geweet die mens gaan in sonde verval of verwys die vers na iets anders?

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Petrus en Paulus sê duidelik, soos Johannes 1:1-3, dat Jesus God is, die ewige Seun van God, wat mens geword het om God se plan met sy skepping en met die mens uit te voer. Dit was egter nie ‘n plan wat uit nood gebore is toe die mens in sonde geval het nie. God se alwyse beplanning was reeds van ewigheid af gereed, ook vir die sondeval van die mens, die mens wat Hy geskep het om vir Hom te lewe. Maar toe die mens besluit om vir homself te lewe – om self soos God te wees (Genesis 3:5-6), het die mens sy rug op God gedraai en op homself vertrou. Daarom het Jesus gekom sodat ons deur Hom weer kan lewe soos God ons gemaak het om vir Hom te lewe (vgl. 1 Kor 8:6). Jesus is God se plan vir die hele skepping, ook vir die mens. Van ewigheid af is Hy die openbaarder van God, die Woord van God (Joh 1:1), sodat ons deur Hom in God kan glo en vir Hom kan lewe.

Sy Gees, wat in ons kom woon, lei ons tot geloof in God as die Vader van Jesus, en tot geloof in Jesus as ons Verlosser, om ons deur geloof aan Jesus se Seunskap te verbind, sodat ons kinders van God word deur ons verbondenheid aan Jesus (vgl. Romeine 8:9-17).

Daarom kan ons met vertroue bely dat God ons voor die skepping van die wêreld reeds bestem het om, in gemeenskap met sy Seun, in liefdesoorgawe vir God en vir sy mensdom te lewe. Jesus se nuwe gebod vir sy volgelinge is om mekaar lief te hê soos Hy ons liefhet (Johannes 13:34) deur sy lewe vir ons af te lê (Johannes 15:9-17).

 

Prof Francois Malan