10 April: Klippe weet partymaal meer as mense. – Jan van der Watt

Luk 19:28-20:8 (fokus 19:28-44)

Ons glo partymaal so maklik, veral as dit by skinder kom. Ander kere is ons weer so hardkoppig en ongelowig, veral as dit by die dinge van die Here kom.

Voor die oë van die Fariseërs het die Here wonders gedoen en gepreek. Hulle oë en ore was egter toe soos ʼn klei-os se sweetgaatjies. Meer nog, hulle wou mense wat die waarheid  raakgesien het, ook nog stilmaak (19:39).  Toe sê Jesus ʼn interessante ding: die klippe sal sommer self op die kansels begin klim as die mense so aangaan (19:40). Baie keer begryp mense nie eers wat vir ‘n klip glashelder is nie.

Nou wonder ek… wat meer moes die Here gedoen het om die Fariseërs te oortuig? Nee, kom ons vergeet die Fariseërs. Wat meer moes die Here doen om jou te oortuig dat Hy jou liefhet en jou Here wil wees? Moes Hy twee maal uit die dood opgestaan het? Moes Hy nog n paar meer wonders gedoen het?

Die Here sê dat Hy selfs klippe predikante kon maak as Hy wou, so duidelik is sy boodskap. Maar dit is onnodig. Wat Hy gedoen het, is genoeg. Die kruis en opstanding praat hard genoeg. As jy dit nie wil glo nie, sal jy niks glo nie.

Die een goeie ding wat ons van skinder kan leer is dat mense dit so maklik glo. Miskien het ons daai les nodig as dit by die Here se dinge ook kom.