10 Desember: Dra jou kruis met oorgawe. – Jan van der Watt

1 Joh 3:11-24 (fokus 3:11-18)

Die pad van die kruis is nie maklik om te stap nie en tog is dit wat die Here van ons vra (3:16). Jesus het die voorbeeld vir ons gestel: toe dit nodig was, het Hy sy lewe in liefde vir ons gegee. Van gelowiges word niks minder verwag nie.

Die Here vra dat ons ons kruis soos Hy sal dra. Vir die persoon wat die kruis halfhartig dra sal dit te swaar word. Nee, kruisdra beteken oorgawe – dit beteken om onder die kruis in te sak en dit met alles wat jy het te dra.

Dan mag die gewig daarvan jou dalk na die arme toe druk (3:17); of na die een wat hulp nodig het. Dit mag op jou beursie of jou koskas druk sodat wat daarin is na mense toe vloei wat dit nodiger het as jy. Die kruis mag swaar druk…

Maar terwyl jy jou kruis so voluit dra, mag jy dalk agterkom dat die kruis jou dra… of liewer, dat die Here van die kruis jou dra. Jy mag agterkom dat wat jy vir die arme gee, dubbel na jou toe terugkom; of dat jou beursie en koskas maar net vol bly, al deel jy wat daarin is met ander.

Volg Jesus se voorbeeld – dra jou kruis met oorgawe.