10 Julie: Bid asseblief vir my – Jan van der Watt

Rom 15:14-33 (fokus 15:22-33)

 Die Here neem jou ernstig, veral as jy op sy skoot sit en in gebed dinge van Hom vra. As  jy Hom dus iets vra, aanvaar Hy dat jy ernstig is daaroor, so ernstig dat jy jou deel sal doen om dit wat jy vra waar te maak. In God se oë is jy dus altyd bereid dat Hy jou kan gebruik vir dit wat jy vra; anders sal jy dit mos nie vra nie.

Dit bring ons by voorbidding. Dat ons vir die mense rondom ons moet bid is een van die duidelikste opdragte van die Here. Paulus vra dit ook van sy mede-gelowiges (15:30-31). Maar as ons vir ander bid beteken dit dat ons onsself bereid verklaar om deel van hulle lief en leed te word. Om te bid dat die Here iemand help, beteken eintlik dat ons vir die Here sê dat ons bereid is om daardie persoon te help. As ons vra dat die Here kos vir iemand gee, sê ons eintlik dat ons bereid is om daardie kos aan te dra. As ons bid dat die Here iemand moet troos, moet ons bereid wees om die skouer te wees waarop daardie persoon kan huil.

Voorbidding maak jou lewe onlosmaaklik deel van ander se lewens. Wees dus versigtig waarvoor jy bid – die Here mag dalk net van jou verwag om juis dit te doen waarvoor jy vra.