10 Junie: Moenie skinder nie. – Jan van der Watt

Hand 21:15-22:16 (fokus 21:21-25)

Iemand het eendag droog opgemerk: “Adam en Eva het seker nie baie met mekaar gesels nie, want daar was niemand anders om oor te skinder nie”. Skinder is seker een van die mees vernietigendste tydverdrywe wat daar is en tog hou mense so daarvan. Die gevaar van skinder is dat dit so seermaak en afbreek. Die bedoeling met skinder is nooit goed nie. Kyk net hoe seer het dit vir Paulus gemaak. Skinderstories het gesorg dat hy in Jerusalem in die tronk beland (21:21).

  • Skinder is agterbaks. Dink mooi… dit is om iemand agter sy rug seer te maak en af te kraak. Die persoon is nie eers self daar om homself te verdedig nie. Dan draai jy gewoonlik die inligting dat dit so sappig as moontlik klink.
  • Skinder is ook gewoonlik ʼn bietjie van ʼn gelieg. Omdat die persoon nie daar is nie, kan jy mos sê wat jy wil sonder om bang te wees dat jou leuens gaan uitkom of dat iemand jou gaan teëspreek. Wie sal nou weet as jy so bietjie aandik?
  • Skinder is ook venynig, want gewoonlik skinder ʼn mens nie om te vertel hoe goed iemand is nie! Inteendeel.

Wie wil nou ʼn agterbakse, venynige leuenaar wees? Moet dan nie skinder nie.