11 Maart : Waar Jesus is, is daar hoop en liefde. – Jan van der Watt

Luk 4:31-5:11 (fokus 5:1-11)

Iemand sê eendag vir ‘n ouderling op huisbesoek: “Ek is nie ‘n huigelaar soos jy wat heeltyd kamma in die kerk sit nie”. Die ouderling antwoord toe: “Ek is nie hier die huigelaar nie. Jy is. Ek ken myself en my sonde – ek weet ek het die Here nodig en gaan soek daarom na Hom. Jy dink jy kan sonder die Here klaarkom en self jou sonde vergewe. Oppas, ‘n mens kan nie God se werk doen nie. Jy het Hom nodig”.

In ‘n Christen se hart is daar altyd ‘n toutrekkery, soos met Petrus (5:8). Aan die een kant besef jy hoe broos en sondig jy is. Jy wil eintlik net jou gesig toemaak in skaamte en vir die Here vra om weg te gaan.

Maar aan die ander kant wil jy net aan Hom bly vashou, nee, vasklou; wil jy nie hê dat Hy moet weggaan nie. Jy weet Hy is die enigste Een wat dood in lewe kan verander. Hy is jou enigste hoop en by Hom en Hom alleen wil jy wees.

Ja, die tou span styf: aan die een kant hoort jy nie by Christus te wees nie – aan die ander kant is dit al plek waar jy kan wees. Dit is nie huigelary nie. Dit is realisme.

Jy sit nie in die kerk omdat jy so goed is of huigel nie – jy is daar omdat Jesus daar is. En waar Jesus is, is daar vir jou hoop en liefde.