12 November: Gun jouself tyd om minder te doen. – Jan van der Watt

Heb 12:18-13:8 (fokus 13:1-8)

Ons word van kleins af gekondisioneer om “aksiemense” te wees. Mense tel nie so baie nie, maar wat hulle doen wel. Daarom meet ons mense aan wat en hoeveel hulle doen. Kyk maar net ‘n bietjie rond. By die werk is almal tevrede as ek “produseer”, maar daar is min simpatie met my as iets persoonliks verkeerd loop. Of ek nou sleg of siek voel, maak nie soveel saak nie, solank ek net “aktief produseer”. So kom ‘n mens agter dat aksies vir ons belangriker as mense is.

Die Here wil hê dit moet andersom wees. Vir Hom is die persoon die belangrikste. Persone moet swaarder as aksies weeg. Dit is wat liefde en lojaliteit beteken (13:1). Dink maar net hoe agterstevoor ons dikwels redeneer: Dit neem jare om vertroue in ‘n persoon op te bou, maar een aksie kan alles in een oomblik vernietig. Dan draai ons sommer teen die persoon. Vir ons gaan dit ook dikwels meer oor wat iemand het, as oor wie hy as persoon is. Sukses word gemeet aan wat jy met jou aksies kon bymekaar maak en nie oor wie jy is of hoeveel jy as persoon vir ander kan beteken nie.

Ons hele godsdiens is primêr op ‘n Persoon gebou: Jesus, wat gister, vandag en more dieselfde is (8). Hy het wel baie vir ons gedoen, maar wat ons deur die lewe dra is wie Hy is, sy liefde, genade, nabyheid. As ons net gaan konsentreer op wat Hy vir ons gedoen het, gaan ons Hom as persoon dalk mis. Ons moet leer om net die teenwoordigheid, die dáár wees van iemand te kan geniet, net om dat daardie Persoon is Wie Hy is. Die beste manier om dit te doen is deur stilte, deur op die Here te wag, deur sy teenwoordigheid te soek, deur op sy skoot te klim.

Gun jouself tyd om minder te doen, deur meer tyd te maak vir ander mense, ook vir Jesus.