12 September: Gee jouself weg om jou huweliksmaat te behou. – Jan van der Watt

Ef 5:21-6:9 (fokus 5:21-33)

Op ʼn keer hou ek ʼn paartjie op ‘n lughawe dop. Die meisie het ʼn knoets van ʼn diamantring aan. Elke nou en dan loer sy kamma ongemerk daarna en wikkel dan haar vingers (nogal opsigtelik) sodat die diamant mooi in die middel van die vinger sit. Haar verloofde kyk nie eers nie – hy verdiep homself in ʼn boek: “How to make money and get rich quickly”.

Die Here het ʼn geheime resep vir die huwelik (5:21). Die huwelik bring gewoonlik twee individue bymekaar met uiteenlopende drome en belangstellings. Hulle kies mekaar omdat elkeen dink dat hy of sy met daardie lewensmaat die drome sal kan verwesentlik. Daarom is die huwelik die plek waar jy moet wys hoe goed jy met spanwerk is… nie hoe wonderlik jy is nie, of hoeveel beter jy as jou huweliksmaat is, of hoe goed jy kan baasspeel nie. Nee, daar moet jy wys hoe goed jy met diens is, want drome in ‘n huwelik word gewoonlik net verwesentlik as jy bereid is om jouself te gee vir drome… ja, die drome van jou huweliksmaat. Die “diamantring” kom nie vanself nie. Dit kom deur bereid te wees om jouself weg te gee vir die ander een.

Dit is nie altyd maklik nie, want ons sien ons huwelikmaats soos hulle is, met al hulle swakpunte en gebreke. Dikwels stel hulle ons teleur, irriteer hulle ons so dat ons wonder hoekom ons nog probeer om iets van onsself vir hulle te gee. Dan is dit nie maklik om eerder as dienaar by so iemand se voete te kniel as om weg te hardloop nie.  Miskien het daai ou met die boek dit goed besef: om jou huweliksmaat tevrede te hou vat harde werk, en daarom het hy aan die werk gespring, al sou dit beteken dat hy hard moet werk sodat sy ryk kan wees.

Ef 5 :25 sê dit is die opoffering wat Jesus vir jou gemaak het … en dit is sy voorbeeld vir jou.