13 Augustus: Tel jou skatte. – Jan van der Watt

2 Kor 4:7-5:10 (fokus 4:7-15)

Het jy al jou skat ondek? Dit is nou die skat hier binne in jou? Paulus vergelyk gelowiges met kleipotte waarin ‘n skat weggesteek is. (Dit was mos hoe destyds se ABSA’s of Standardbanke gelyk het). Jou ou kleipot mag vol barste wees maar aan die skat binne in jou kan niemand vat nie. Om die waarheid te sê, die Here sê dit is net joune en verwag dat jy uit daardie skat moet leef.

So van ‘n skat gepraat. Daar was ‘n omie wat in absolute armoede op sy plaas gebly het en so dood is ook. Met sy boedel kom dit toe uit dat hy ‘n multi-miljoenêr was – hy het van jongs af aandele gekoop en niemand het dit geweet nie. Mense het net hulle koppe geskud: hoe kan hy die lewe so by hom laat verbygaan het?

Gelowiges maak dikwels dieselfde fout. Ons konsentreer so op ons ou kleipotte en al die gestamp en gestoot in die lewe (4:7) dat ons vergeet wat regtig belangrik is: die skat binne in ons. Dit is eintlik wat ons ryk en die lewe die moeite werd maak.

As jy mooi kyk sal jy sien dat die Here ‘n goeie dosis van die skat by jou afgelaai het. Hy het jou nie afgeskeep nie. Die krag wat Jesus uit die kloue van die dood uitgeruk het, is joune ook (4:15). Die goeie nuus van God wat jou in sy hand vashou, kan jy vir ander vertel, want dis waar. Daar wag ‘n splinternuwe lewe vir jou wat nooit sal ophou nie, en dit saam met God (5:1). Ja-nee, die toekoms roep en wat ‘n toekoms is dit net nie! En die beste van alles is dat die Here wil hê dat ons nou al uit die krag van daardie toekoms moet leef. Byna soos iemand wat vorentoe beur om iets te gryp, moet ons elke dag vorentoe beur na die wonderlike skat wat God in ons gegee het.

Moet dus nie jou lewe versuur met jou kleipot wat maar bietjie gestamp word nie. Tel liewer jou skatte! Dan sal jy die hele lewe sommer vir jou skitter.