13 Julie: Die lag van God. – Jan van der Watt

1 Kor 1:18-31 (fokus 1:18-31)

 Daar is ‘n boek met die naam “Die lag van God”. Dit vertel van ‘n klomp wetenskaplikes wat oor God gesels en natuurlik probeer bewys dat God nie regtig die wêreld kon maak nie, dat God nie kan bestaan nie, en so aan. God luister na hulle en elke keer kan God maar net lag oor hulle argumente. Hulle is maar net mense en nie God nie. Daarom redeneer hulle maar net soos mense en hulle argumente is maar net so slim as wat hulle koppe groot is. Nou probeer hulle God in hulle koppe inpas. Eintlik moet hulle sê: “as God ‘n mens sou gewees het, sou hy nie kon skep, of wonders kon doen nie”. Maar natuurlik is God nie ‘n mens nie.

Paulus het dit goed verstaan. Wat vir mense slim lyk, is vir God dwaasheid. God doen dikwels dinge wat vir mense totaal onverstaanbaar is (1:25). Ons moet dus nie verwag dat God altyd dinge gaan doen soos ons dit sou doen nie. Neem maar sy plan van verlossing. Hy kon ons as mense sekerlik op baie maniere gered het. Tog stuur Hy sy Seun om aan ‘n kruis te sterf vir ons sonde. Deur ‘n skandelike kruis ontplof sy verlossingskrag in die wêreld. Watter mens sou so plan gemaak het? Vir die Jode van destyds het dit geen sin gemaak nie en baie mense vandag nog sê hulle glo nie God sou dit gedoen het nie. Eintlik sê hulle met hulle argumente maar net: “as God ‘n mens was, sou hy nie…”

God is nie ‘n mens nie. Sý wysheid is nie óns wysheid nie. Daarom gaan ons telkens verras word as ons met God te doen het. Ons sal dikwels maar net voor ‘n misterie staan wat ons nie kan verstaan of verklaar nie, net kan aanvaar. God is God en nie ‘n mens nie.