13 Oktober: Christenskap word aanmekaar geweef deur verhoudings. – Jan van der Watt

1 Tim 5:1-16 (fokus 5:1-16)

 Eenkeer hoor ek een broer vir ‘n ander sê: “Met ‘n broer soos jy oorweeg ek dit sterk om myself vir aanneming op te sit”. Ja-nee, om as familie saam te leef is seker nie altyd so maklik nie; wat nog van al die ander mense. Selfs die liefde is partymaal nie genoeg om alles bymekaar te hou nie.

Tog is een van die belangrikste dinge vir ‘n Christen om na sy verhoudings te kyk. Dit is vir die Here vreeslik belangrik dat dit tussen sy kinders goed moet gaan. Hulle moet vir mekaar plek maak, vir mekaar sorg, mekaar ondersteun, mekaar vergewe, liefhê, bederf, en so kan ons aangaan. Nooit mag enige Christen op iemand trap wat swakker is as hy nie. Vir magspeletjies is daar eintlik nie ‘n plek onder Christene nie, want Christelike mag bestaan juis uit en uit in diens aan mekaar. Die Here het nie verniet gesê: “Wie eerste is, sal laaste wees nie”. Daarom moet Christene altyd die plek van genesing vir die gekneusdes onder ons wees. Deurdrenk van Christelike liefde wat hy by gelowiges kry moet die persoon wat seergekry het weer kans kry om gesond te word.

Dit is nie maklik nie, want vandag in ons kompeterende en gejaagde lewe is verhoudings baie meer kompleks as lank gelede. Maar dit verander nie aan die Bybelse opdrag nie: ons moet ons verhoudings versorg. Dit is immers waarom die Here vir ons dinge soos liefde en vergifnis geleer het. Dit het nie verander toe die lewe meer gejaag geraak het nie. Om die waarheid te sê, dit het net meer nodig begin word.

Moet jouself nie opsit vir aanneming nie, maar gaan loop liewer klasse in liefde, diens en vergifnis.