14 April: As jy van die Here ontvang sal jy ook weet hoe om te gee. – Jan van der Watt

Luk 21:37-22:23 (fokus 22:14-23)

As dit by die familie kom, kies ons nie ons broers of susters nie – die Here gee hulle vir ons; ook ons geestelike familie. Daarom kan ons nie te uitsoekerig of kieskeurig wees as dit by God se kinders kom nie. Immers, ons is self maar net deur genade deel van daardie familie. Dit kon so maklik anders gewees het.

Jesus het seker gemaak dat ons dit besef toe Hy die nagmaal ingestel het. Dit is sy ete en daar is die hele familie welkom. Daar, om die tafel, word ons elke keer weer herinner aan wie ons broers en susters is. Meer nog, daar sien ons ook hoekom ons ʼn familie is: Jesus het sy lewe vir elkeen om daai tafel gegee, sonder uitsondering. Ons is almal syne want ons is duur gekoop.

As jy God se genade vir jou verstaan sal jy nie kieskeurig wees nie – net dankbaar. Jy het ook ʼn plekkie om sy tafel. Daarom laat daardie genade jou ander omhels van wie jy miskien nie so baie hou nie.

Genade laat jou nie kies nie, maar ontvang, en as jy ontvang sal jy ook weet hoe om te gee.