144 000 – Vraag

144 000

Jan Smith vra:

Openbaring 7 en 14: Hoofstuk 7:4: En ek het die getal van die verseëldes gehoor: honderd vier en veertig duisend verseëldes uit al die stamme van Israel. Hoofstuk 14:3: …en niemand kon die lied leer nie behalwe die honderd vier en veertig duisend wat van die aarde vrygekoop is. Vers 4: Dit is hulle wat hulself met vroue nie besoedel het nie, want hulle is maagdelik rein; dit is hulle wat die Lam volg waar Hy ook heengaan; dit is hulle wat gekoop is uit die mense as eerstelinge vir God en die Lam. Hierdie twee groepe is waarskynlik dieselfde voortspruitend uit die twaalf stamme van Israel. Hulle het egter ‘n besondere eienskap: Hulle is maagdelik rein en is gekoop uit die mense as eerstelinge van God. Hulle staan op die berg Sion met die Naam van die Vader en Jesus op hulle voorhoofde geskrywe en onder begeleiding van siters sing hulle ‘n nuwe lied. Verder is daar geen melding van die mense nie. Het u dalk enige idee wie hulle sou wees en in watter konteks ons hulle met die res van Openbaring moet/kan plaas. Baie dankie. 

Prof Jan van der Watt antwoord:

a) Eers moet daar ʼn opmerking oor die 144,000 gemaak word. Dit is ʼn simboliese getal, waarvoor Openbaring natuurlik baie bekend is. Dit word gewoonlik so verklaar:

  • 10 is die getal van volkomenheid/volmaaktheid. In die Joodse en die Griekse wêreld was die getal as getal van volmaaktheid gesien.
  • 10x10x10 = 1000: Die maalteken in simboliese getalle beteken intensivering. Die drie maal dui op ʼn kubus (vierkantige blokkie waarvan die sye presies dieselfde lengte het). Ou antieke heiligdomme is dikwels as kubusse gebou om volmaaktheid aan te dui.
  • 3×4 = 12: 4 is die getal van die wêreld (die wêreld het vier hoeke) en 3 die getal van die geestelike wêreld. 3×4 beteken dus daar waar die wêreld en God (die geestelike) intensief met mekaar te doen het – dit is natuurlik die mense wat met God in ʼn intensiewe verhouding staan. Daarom is daar 12 stamme in Israel en 12 dissipels as pilare van die kerk.
  • 12×12=144: 12 stamme uit die Ou Testament en 12 dissipels uit die Nuwe Testament maak al die mense van God uit.

144,000 is dus 144×1000: dit dui met ander woorde op al die mense van God (12×12) soos God dit perfek beplan het (10x10x10). 144,000 is dus die simboliese getal van al die mense van God volgens die perfekte beplanning en wil van God.

In Openbaring 7 en 14 word daar dus na die kerk van God in sy volheid en volmaaktheid verwys as hulle die 144,000 genoem word. 

b) Wie is die mense wat hulle nie besoedel nie en wat beteken dit? Die geleerdes verskil baie oor wat presies hier bedoel word met die reinheid, maar die basiese boodskap blyk te wees dat mense alles opoffer om die Lam te volg.

c) Wat hoor ʼn mens van hulle in die res van Openbaring? Inderdaad word die 144,000 net in Openbaring 7 en 14 gebruik. In die res van Openbaring word daar ander beelde vir die kerk gebruik, soos bruid (Openbaring 19:7) of groot menigte (Openbaring 7:9), ens. 144,000 is dus een van die beelde wat van die gelowiges gebruik word; ander beelde praat van dieselfde groep mense – elke beeld vertel egter vir ons iets unieks van die kerk. 

 

Outeur: Prof Jan van der Watt