16 April: Hou vol, die beloning gaan daar wees. – Jan van der Watt

Luk 22:39-62 (fokus 22:39-46)

Enigiemand wat al gereis het, sal jou vertel dat dit nie altyd so lekker is as wat dit mag klink nie. Toer het natuurlik sy oomblikke, maar daar is ook die minder opwindende tye. Om uiteindelik by die uitkykpunt bo-op die berg te kom, vat stap en nogmaals stap. ʼn Mens sit ure in die verkeer in Parys of London om uiteindelik die museum te sien wat jy so graag wou sien. Die belonings is gelukkig altyd daar.

Op die lewenspad gaan dit nie anders nie. Jesus het vir ʼn ander pad gebid, maar uiteindelik gesê: “Vader, doen wat U wil” (22:42). Hy het aanvaar dat daar oor sy pad dinge mag kom wat Hy nie van gaan hou nie. Maar sy hemelse Vader weet beter en daarom pak hy die pad met vertroue en in geloof aan, kom wat wil. Dit is die geheim van ons lewensreis wat ons by Jesus kan leer: om ten spyte van ons eie drome, God se wil vir ons lewens te aanvaar – ja, om bereid te wees om sy pad te stap. Die beloning gaan altyd daar wees. Ja, daar gaan tye van geestelike “harde stap” of “lank in die verkeer sit” wees waar ons gaan worstel en wonder… Maar ons moet weet: saam met God is ons op pad iewers heen. Ons eindbestemming wag – dit is wat God vir ons beplan het.

Dit is hierdie wete en aanvaarding dat God met ons op pad is, wat ons op ons lewenspad opgewonde hou, al “stap ons swaar”. Ons moet net volhou; die beloning gaan daar wees.