16 Januarie – Moenie te vinnig antwoorde gee nie. – Jan van der Watt

Lees: Mat 13:1-35 (fokus: 13:24-30)

[Hierdie dagstukkies kom uit ‘n dagboek geskryf deur Prof Jan van der Watt. Hy maak gebruik van Die Boodskap. Dank aan CUM vir die gebruik van hierdie materiaal.]

‘Die onkruid moet nou maar saam met die koring groei tot die koring ryp is. As ons begin oes, sal ons eers die onkruid uithaal en verbrand. Dan kan ons die koring oes en in die skuur bêre.’ (13:30)

Mense worstel deur al die eeue nog met die vraag waarom dinge partymaal so lelik verkeerd kan loop. Dit is veral ʼn vraag wat Christene dikwels pla, want hulle het mos ʼn liefdevolle hemelse Vader wat na sy kinders kyk. Immers, as ʼn pa sien sy kinders kry swaar sal hy mos dadelik help. Daarom vra Christene baie keer as dinge skeef loop: Wat het dan van God geword? Is Hy nie ons hemelse Vader wat vir sy kinders moet sorg nie?

Hoewel daar nie kitsantwoorde is nie, praat die Bybel tog hieroor. Een ding is die Bybel duidelik oor – as dinge skeefloop kan daar baie redes voor wees. Daarom moet ons veral oppas om nie te maklik antwoorde te gee nie.

Een antwoord wat die Bybel wel gee, is dat die lewe en wêreld nie perfek is nie… nog nie. En Christene bly in daardie wêreld met al sy skete, bedrog, haat, seerkry, en noem maar op. Magte en mense wat God se ‘land’ in ʼn woesterny wil verander loop tussen die Christene rond. Die Here het gesê dat dit soos ʼn land is waarin daar onkruid en koring saam gesaai is (13:24-30). Goed en sleg is saam deel van hierdie lewe. Ons lewenspad gaan opdraendes en afdraendes hê. Dit is eenvoudig hoe die lewe is. Die goeie koring kan nie help om teen die onkruid te skuur nie en kan nie keer dat die onkruid die son wegkeer nie.

Dit verduidelik nog nie waarom God dit alles toelaat nie. Die antwoord het ons nog nie. Om egter wel te weet dat God besluit het om die onkruid en koring langs mekaar te laat groei, help ons egter met ons gesindheid. Dit help ons om dinge te verwerk en keer so dat die slegte dinge ons opvreet of geestelik verteer. Dit stel ons net reg in teenoor die lewe – as die slegte kom is ons nie verras nie. Nee, ons is gereed as die onkruid die hitte van ons son wegkeer. Ons weet ons kan en hoef nie die vinger na God te wys en te vra waar ons Vader is nie. Hy is steeds die Boer wat weet wat gebeur.

Krisisse gaan daar altyd in die lewe wees… In krisisse moet ons ons nie bekommer oor God, die Boer, se werk of Hom heeltyd probeer herinner oor hoe ons dink Hy sy werk behoort te doen nie. God se werk is nie om nou die krisis-onkruid elke dag uit te trek nie, al wil ons dit gedurig op sy taaklysie sit. Ons moet ons liewer bekommer oor wat op ons taaklysie staan. Ons moet groei al druk die onkruid ons; ons moet bly leef al keer die onkruid ons son weg.

Die boer los nooit sy lande nie. Nog minder sal God jou ooit los. Groei tot sy eer deur al die krisisse heen.