18 Januarie – Jesus se gasvryheid is spesiaal… en vir almal. – Jan van der Watt

Lees: Mat 14:1-21 (fokus: 14:13-21)

 ‘Hy het die skare op die gras laat sit. Toe vat Hy die visse en die brood, kyk op na die hemel en sê vir God daarvoor dankie. Hy begin die brood in stukke breek en gee dit aan sy dissipels, wat dit weer aan die mense uitdeel.’ (14:19)

 Wie sal ʼn skare mense vir ete nooi met net vyf brode en twee vissies in die spens? Wel, net iemand wat meer moed het as wat goed vir hom is of iemand met uitermate baie geloof. Tog huiwer Jesus nie. Hy laat die mense aansit en begin bedien…, want Hy spesialeer in liefde en gasvryheid vir elkeen wat na Hom toe kom.

Toe die skare die brood en vis in hulle hande voel, het almal een ding verstaan: by Jesus is hulle welkom, kom wat wil. Sy arms staan vir hulle oop.

Die gebruik destyds was om nie sommer saam met enigiemand te eet nie. Jy het net saam met jou vriende geëet. Rondom ʼn tafel kon jy dus sien wie is regtig vriende van wie. As Jesus die mense dus vir ete nooi, sê Hy daarmee vir hulle: Ek wil julle vriend wees en julle my vriende maak. By My is daar altyd vir julle plek. Met dit wat Ek het, sal Ek julle versorg.

En wat het Jesus net nie! Jesus het vyf brode en twee vissies… en die wonderkrag om mense se lewens vir altyd te verander. Dit is ʼn wonderkrag wat die onmoontlike moontlik maak. Daarom kon Hy vir daardie mense nie net brood of vis gee nie, maar soveel meer. Die wat van daardie tafel af opgestaan het en die pad verder saam met Hom gestap het, sou die trooswoord van Jesus hoor juis net toe hulle dit die nodigste gehad het; hulle het sy hand van genesing gevoel het net toe dit die seerste was en het sy liggaam aan die kruis sien hang toe alles vir hulle tevergeefs gelyk het.

Vandag nog staan skares rondom Jesus. En Hy nooi hulle uit. Miskien staan jy ook so tussen daardie skares en wonder of jy ʼn stukkie brood van Hom gaan kry. As jy jou hand uitsteek gaan jy kry… ja, baie meer kry as net brood of vis. Ja, Hy gee nie net aardse kos nie, maar ook hemelse voedsel. Jy gaan by hom lewe en vriendskap kry; liefde en genade.

Hierdie wonderlike liefde is maar ʼn handuitseek ver, ook vir jou.