18 Julie: Snuffel die sonde uit. – Jan van der Watt

1 Kor 5:1-8 (fokus 5:6-8)

 Baie van ons is spesialis “sondebelyers”. Ons doen dit in die kerk (sommer so met die lied wat ons na die wetsbediening sing), in ons gebede voor ons gaan slaap en selfs partymaal voor ons eet. Here, vergeef ons ons oortredinge en sonde…

Nou ja, sondebelydenis sonder om met mening van daai sonde in jou lewe ontslae te raak is soos om water in ‘n stukkende emmer te tap sonder om die gat in die emmer reg te maak. Dit help regtig nie veel nie.

Sonde is soos kanker. As jy dit nie heeltemal uitsny nie, groei dit weer en soms erger as tevore. Die probleem is mos dat ons daaraan gewoond raak. Die eerste maal dat ek vloek voel ek baie ongemaklik, maar die tweede maal gaan dit makliker, dit weet ons almal. Dan voel ek nie meer so sleg nie en is ook nie so vasberade om van die vloek ontslae te raak nie. Juis daarom wil die Here hê ons moet die sonde sommer vinnig uitsnuffel en dadelik daarvan ontslae raak, heeltemal ontslae raak, in alle geval voordat jy daaraan gewoond begin raak. As jy daai eerste maal vloek en jy vra die Here om verskoning, moet dit sommer ook die laaste maal wees. Daar moet nie eers ‘n ou klein stukkie, ja, ‘n effense gedagtetjie om weer te vloek agterbly nie. Dit is die enigste manier. So moet dit ook met oneerlikheid, geskinder, woede en wat nog alles in jou lewe gaan. Dit moet vinnig en effektief uitgesnuffel en van ontslae geraak word.

As jy sonde bely, doen dit ordentlik; moenie soos ‘n emmer met ‘n gat in wees nie. Snuffel daai sonde uit en raak heeltemal daarvan ontslae.