19 Augustus: Hou jou kop skoon. – Jan van der Watt

2 Kor 10:1-11 (fokus 10:1-6)

 Paulus is op die oorlogspad as dit kom by mense wat die evangelie wil verdraai. Soos hy sê, hy sal nie tweemaal dink om daardie mense voor almal vas te vat nie (10:2). Hy twyfel ook nie daaraan dat hy genoeg ammunisie en wapens het om dit te doen nie, want die Here self gee dit vir hom (10:4). Daar’s veral een wapen wat opval: “En elke gedagte wat deur ons kop gaan, neem ons gevange en lewer dit aan Christus uit” (10:5).

Ons dade begin almal in ons koppe. Wat ons dink, bepaal wat ons doen, al lyk dit baie keer of party mense glad nie dink voor hulle doen nie. Hoe positief of negatief jy oor iets dink, gaan bepaal hoe positief of negatief jy gaan optree. As jou kop byvoorbeeld vol jaloesie teenoor iemand is, sal jy dit in jou geselsies en optrede nie kan wegsteek nie. Jy sal miskien vir ‘n rukkie jou “pose kan hou”, maar iewers gaan dit uitborrel. En ons weet, as ‘n sondige gedagte eers in jou kop vasgesteek het, kry jy hom nie sommer uit voordat jy dit nie eers gedoen het nie. Die gedagte maal en rol, rus ‘n bietjie en is dan weer daar. Boonop is die afstand van jou kop tot by jou hande maar kort – die sondige gedagte spring gou van jou kop tot by jou mond of hand. En as jy met mense werk, veral met mense waarmee jy nie saamstem of van wie jy nie hou  nie, kan dít gevaarlik wees.

Daarom: raak van sulke negatiewe en sondige gedagtes ontslae die oomblik wat hulle kop uitsteek. Moenie eers tweemaal daaroor dink nie. Hoe vroeër hoe beter. “Lewer dit aan Christus uit”, soos Paulus sê (10:5). So hou jy jou kop skoon en is daar baie plek vir goeie en positiewe gedagtes. Dan word jou gedagtes ‘n wapen… vir goeie optrede.

Hoe sterk is die wapen van jóú gedagtes?