19 Februarie – Die belangrikste dinge in die lewe weeg niks nie… want dit is nie van silwer of goud gemaak nie. – Jan van der Watt

Mark 8:22-9:1 (fokus 8:34-9:1)

As iemand my volgeling wil wees, moet hy sy hele lewe vir My gee. Ek sal met niks minder tevrede wees nie.’ (8:34)

 

Het jy al agtergekom… die belangrikste dinge in die lewe weeg niks nie. Neem nou maar liefde: As die liefde vir daai nuwe outjie by die skool jou dogter soos ‘n aansteeklike siekte tref, verander baie dinge, maar nie haar gewig nie – behalwe as sy natuurlik saam met die liefde op ‘n streng dieët ook gaan. Belangrike dinge, soos die liefde, kan ons nie op gewone skale soos silwer of goud weeg nie. Dit is miskien ook waarom ons regte liefde nie met silwer of goud kan koop nie. Liefde kom gewoonlik verniet…

Maar al weeg liefde niks vra dit baie; ja, eintlik vra dit alles (8:34). Neem nou maar liefde vir Jesus. Dit is die onsigbare band wat jou, ja, die hele jy, aan Hom vasbind. Dit vra dat wat vir Hom belangrik was vir jou ook belangrik sal wees; dat jy sal wees waar Hy is en sal stap waar Hy stap. So gee jy eintlik baie van jouself ‘weg’ – jou eiewilligheid, jou pad wat jy op jou eie beplan het om te stap. Soms vra dit meer as wat ons verwag het. Onthou, Jesus was soms alleen in die woestyn en sy pad het ook deur ‘n kruis geloop. Miskien kan jou pad ook daarlangs verby loop as jy by Jesus wil bly. Dan sal dit liefde wees wat jou aan die gang sal hou. Juis daarom is liefde so kosbaar.

Die lewe as Christen is nie altyd maklik nie. Maar dit is ook nie so moeilik nie. Hoewel jy alles moet gee, kry jy baie meer… jy kry Jesus. Dit is waaroor liefde gaan: om jou aan Iemand te bind, ja, om syne te wees. En as jy Syne is, is Hy ook joune. Al mag jou situasie moeilik wees, is jy daarin nooit alleen nie. En dit maak die moeilike maklik.

Liefde vir Jesus mag niks weeg nie, maar dit vra alles… en dit gee jou ook baie meer terug.