19 Junie: Moenie op die seerkry van ander klim nie. – Jan van der Watt

Rom 2:1-29 (fokus 2:1-18)

ʼn Vrou wou haar nuwe dominee prys, maar dit het ‘n bietjie verkeerd uitgekom: “Dominee”, het sy gesê, “ons het nie geweet wat sonde is voor jy hier aangekom het nie”.

Miskien het die dominee oor sonde gepraat om hulle te laat besef hoe dankbaar hulle moet wees oor hulle redding. Maar dit kan ook wees dat die dominee gedoen het wat dominees so graag doen: om heeltyd te hamer op wat die gelowiges verkeerd doen, ja, om hulle sonde so onder hulle neuse te vryf dat hulle al die swael en vuur van die hel ruik (lees maar net Rom 2:1-3).

Dit is nie net dominees wat dit doen nie. Ons doen dit ook. Ons dink dat as ons op ander se foute hamer ons beter sal lyk. “ Weet jy was sus of so gedoen het…” laat my al klaar beter voel. Ja-nee, ek is self darem nie so sleg nie. Dit is sowaar ʼn snaakse manier om jouself beter te laat voel, deur ander seer te maak.

Jy sal weet wanneer dit gebeur. Dit gaan gewoonlik so: “Sarie het haar goeie punte maar…” en dan trek jy los. Of “Moet vir niemand sê nie – ek sê net vir jou…” en dan word die krane oopgedraai. As jy klaar is, het jy so bietjie van ʼn verligte gevoel, want jy voel so bietjie meer tevrede met jouself.

Jy het nie nodig om op die seerkry van ander te klim om beter te voel nie. God het jou lief soos jy is… onthou net altyd dat Hy die mense oor wie jy so skinder ook liefhet.