19 Oktober: Lees jou handboek. – Jan van der Watt

2 Tim 2:14-26 (fokus 2:14-19)

 Een ou jaag vreeslik met sy kar. Bang gery vra die ander een in die kar hom hoekom hy so jaag. “Ek het agtergekom die remme is stukkend. Nou moet ons so gou as moontlik by die huis kom”.

‘n Mens kan nie een fout met ‘n ander regmaak nie. Boonop kan onkunde jou ook nog duur te staan kom. Een van die groot gevare van godsdiens is juis dat daar so baie “kenners” is, mense wat kamma “weet” dat as jou remme stukkend is, jy vir die huis moet jaag. En dit help nie om met hulle te stry nie. As jy met hulle daaroor gesels, sal hulle vir jou sê: “Dis wat ek glo, uit en gedaan”. Plaas daarvan dat hulle die handboek uithaal en lees.

Dit klink miskien nie so belangrik nie, of miskien klink dit afgesaag, maar deel van ‘n mens se behoud as gelowige is om God se “handboek” te lees. Dit beskerm jou net om nie dom dinge te doen nie. Dit help jou om regte besluite op die regte tyd te maak. Ons moet onthou dat ons God nie uitgedink het nie. Nog minder kan ons vir Hom voorskryf hoe Hy moet wees. God het na ons toe gekom en vir ons kom vertel wie Hy is en hoe Hy wil hê ons moet leef. Die inligting suig ek nie sommer uit my duim uit nie. God het dit vir ons gegee (geopenbaar) om te lees… in sy Woord. En ons moet daardie Woord lees en bestudeer, anders jaag ons ook dalk met stukkende remme huis toe omdat ons dink dit is reg.

Doen jouself ‘n guns – lees God se handboek. Dan sal jou geestelike reis sommer baie veiliger wees.