2 Desember: God se leierskapstyl.– Jan van der Watt

1 Pet 5:1-14 (fokus 5:1-4)

God se leierskap laat jou nie in troonsale of parlemente land nie. Sy leierskapstyl is anders. Om die waarheid te sê, as ons sy leiers in die wêreld begin soek, gaan ons lank soek as ons nie reg soek nie. Ons moet weet wat om te soek.

Waar begin ek as ek reg wil soek? Op die kansel? In die kerkraad? By die dagbestuur van die vrouediens? Jy sal sekerlik ook daar (gemengde) sukses behaal. Maar as die Here sou begin soek, sal hy begin by die plek in die gemeente waar die armste mense bly, sal Hy gaan stop by die ou tannie wat nie meer uit haar bed kan kom of haarself kan help nie. Hy sal stop en soek by die persoon wat geestelik sukkel, of die dogtertjie wat nie ʼn ma of pa het nie. By die broos mense, die mense wat hulp nodig het, sal Hy gaan soek.

Want vir Hom is ware leiers mense wat Jesus se voorbeeld volg: om te help en te versorg. Toe Hy hier was, het hulle hom nie in paleise by die konings gekry nie, maar by die sondaars aan tafel… hulle het Hom nodig gehad. Hy het by die blindes en siekes gaan staan toe sy dissipels verder wou stap.

God se leiers gaan staan stil waar sy hulp nodig is. Daar sal hulle nooit verbystap nie.