2 Januarie – Die lewe is maar “soet-suur” – solank dit net meer soet as suur is. – Jan van der Watt

Lees: Mat 2:1-23 (fokus 2:13-18)

‘’n Engel van die Here het in ’n droom vir Josef kom sê: “Word wakker! Vat die Kindjie en sy ma en vlug dadelik Egipte toe. Bly daar totdat jy weer van my hoor. Herodes is op soek na Jesus. Hy wil Hom doodmaak.”’ (2:13)

Die lewe bly maar soet-suur. Wat kan soeter wees as die geboorte van die Redder van die wêreld? Maar wat kan suurder wees as die bedrog, haat en moord wat soos slange deur die soet van die lewe seil?

Dit is hoe die verhaal van Jesus ook begin. Toe die wêreld van blydskap saam met die engele hosanna sing oor die geboorte van die Seun van God, het die donker wolke van bedrog, haat en moord uit die paleis van koning Herodus hierdie godsvreugde verduister. In Herodus se hart was nie ʼn lied van vreugde oor die Verlosser nie, maar het die swaar note van moord hom in die nag wakker gehou. In die donker van die nag het hy planne beraam om die Koning van die wêreld dood te maak.

Ook in ons lewens moet ons verwag dat die suur deur die soet gaan loop – dis hoe die lewe is, selfs vir die geliefde Seun van God. Ons mag egter nooit toelaat dat ons soet versuur nie, ja, dat die soet so versuur word deur alles dat ons dit nie meer kan proe nie. Ons moet die soet van die lewe bly proe en doelgerig nastreef, al loop die suur daaroor. Al gebeur wat mag die swartgalligheid ons nie oorweldig nie. Ons moet God se goedheid steeds daardeur bly sien.

Kyk net na die pogings van Herodus: al die boosheid van die wêreld kon God se goeie nuus nooit demp of sy planne nooit stuit nie. Dit hoef ook ons lewensvreugde nooit te demp of te stuit nie – juis omdat ons die Kind ken wat gebore is en die dieselfde Vader het wat Hom so versorg het.

God het jou lief en daarom sal jou soet altyd meer as jou suur wees… Lê jou lewe weer in oorgawe in sy liefdeshande, en proe die soet van die lewe.