2 Korintiërs (2)

2 Korintiërs (2) – Francois Malan

Paulus se bediening versprei kennis van Christus soos ‘n geur (2:14-17)

Paulus dank God wat deur sy verkondiging die evangelie seëvierend laat voortgaan in die wêreld, terwyl sy verkondiging nie die evangelie verwater vir persoonlike gewin soos baie ander nie. God het hom bekwaam gemaak om God se woord in opregtheid (sonder bymotiewe), in verbondenheid met die opgestane Christus, in opdrag van God en in verantwoordelikheid aan God te bedien.

Deur Paulus maak God die kennis van Christus bekend. Dit is soos ‘n geur wat orals versprei. Vir God is die verkondiging van die evangelie die lieflike geur van Christus; vir die mense wat besig is om gered te word lei die geur tot die lewe saam met die opgestane Christus. Vir die ongelowiges, wat besig is om verlore te gaan, lei die geur van die evangelie tot ‘n dood sonder Christus, omdat hulle die dood van God aan die kruis, wat die straf op hulle sonde gedra het, verwerp.

Paulus se ‘aanbevelingsbrief’ (3:1-6)

Teenoor die predikers wat roem op hulle aanbevelingsbriewe van die Jerusalemgemeente, is die Korintiërs Paulus se ‘aanbevelingsbrief’. Hy dra hulle in sy hart. Hulle lewenswyse getuig van die goeie boodskap wat Paulus verkondig. Deur die lewende God se Gees, wat lewe gee, het Christus in hulle harte geskryf sodat hulle vir God lewe en wil lewe. Die ou wet van Sinai wat op klip geskryf was, het oortreders van die wet na die dood en verdoemenis gelei (Deutr.28:15,63).

Die heerlikheid van die nuwe verbond

Die allesoortreffende ‘heerlikheid’ van hierdie nuwe bediening van Paulus word gestel teenoor die verbygaande ‘heerlikheid’ van die ou bediening, wat Moses met ‘n sluier moes bedek.

Nadat die Israeliete vir Moses as leier verruil het met die goue kalf om hulle te lei, en hy die twee plat klippe met die tien gebooie stukkend gegooi het (Eks.32:1,19), het hy weer die wet by die Here ontvang. Toe hy daarmee terugkom het die Here sy gesig laat blink as getuienis dat God hom gestuur het. Volgens Eksodus 34:29-35 het sy gesig geblink, telkens nadat hy met die Here gepraat het. Maar nadat hy die Here se opdragte aan die volk oorgedra het, het hy ‘n sluier oor sy gesig getrek, totdat hy weer met die Here gaan praat.

Paulus sê, Moses het dít gedoen, sodat hulle nie sou sien hoe die glans op sy gesig verdwyn nie. Soos die glans op Moses se gesig vervaag het, so verdwyn die heerlikheid van die ou bedeling onder die wet, en elke poging om die Wet te vervul om jouself te red. Die eie pogings versper die kennis van die waarheid van Christus. Deur Christus alleen ontvang ons die verlossing en heerlikheid van God uit genade. Elke keer as die Jode van Paulus se tyd die wet hoor, is daar ‘n sluier oor hulle verstand.

Maar die Gees lei ons om in Christus te glo, en is voortgaande besig om alle gelowiges te verander na die beeld van God wat Christus vertoon het. Die Gees laat ons die heerlikheid van God aanskou deur die spieël van die evangelie van Jesus Christus, wat ons deur sy selfopofferende liefde van ons self en ons sonde verlos. Die Gees gebruik die evangelie, soos Paulus dit met woord en daad verkondig, om die selfopofferende liefde van Christus te weerspieël. So gebruik die Gees die Woord van God (die Bybel) om ons te verander om al meer uit liefde vir God en ons medemens te lewe. Die heerlikheid van die nuwe bedeling is dat ons al meer aan die beeld van Christus se nederige liefde gelyk word, en dit in die wêreld weerkaats. God het die mens na sy beeld geskep, maar omdat die mens soos God self wou word, het hy sy eie god geword wat vir homself lewe. Die Heilige Gees kom verander ons om weer vir God en ons medemens te lewe. Dit doen die Here wat die Gees is deur sy inwoning in ons, deur die studie en verkondiging van sy Woord, en deur ons lewe in die krag van God se liefde. Die Heilige Gees maak ons deel van die liefde tussen die Vader en die Seun en die Gees deur ons aan Christus te verbind met geloof in Hom en liefde vir mekaar.

 

Skrywer:  Prof Francois Malan