2 Korintiërs (3)

2 Korintiërs (3) – Francois Malan

Die heerlikheid van Paulus se evangelie sigbaar in lewenswyse (4:1-5:10)

Deur Christus, wat die beeld van God is, het God sy lig in ons harte laat skyn om die heerlikheid van God, wat in Christus geopenbaar is, te ken. Dit is soos ‘n nuwe skepping van lig in ons lewe (vgl. Gen.1:3 ‘laat daar lig wees’; Joh.8:12 ‘Ek is die lig vir die wêreld). Paulus se evangelie en bediening gaan oor hierdie kennis. Sommige mense dink sy evangelie is versluier. Húlle verstand is deur die Satan verblind. Ten spyte van sy moeilikhede en lyding verkondig Paulus hierdie kennis van God, wat deur Christus geopenbaar is. Sy lyding weerspieël juis die lyding van Christus. Die swakheid van sy voorkoms, wat vergelyk word met erde kruike met ‘n skat in hulle, bewys dat die allesoortreffende krag van God af kom, nie van Paulus nie.

Die onsigbare ewige heerlikheid, wat reeds geskep word deur die tydelike verdrukking, laat Paulus volhard in sy apostoliese opdrag, verseker dat God vir hom en sy lesers uit die dood sal opwek om saam met Jesus te wees. Paulus verlang daarna om met sy hemelse woning beklee te word, en die Gees, wat in ons kom woon het, is God se waarborg daarvan. As ‘n gelowige sterf voor Jesus se koms, het hy/sy reeds ‘n ewige woning wat God vir ons gebou het om in die hemel om by Christus te wees. Paulus se doel is om Christus nou en hierna te behaag; Hý sal oordeel of Paulus se lewe goed of waardeloos was.

Die bediening van versoening (5:11-7:1)

Die sondelose Christus het Hom geïdentifiseer met die sondige mensdom en die straf vir hulle sonde aan die kruis gedra. So het God die verhouding tussen Hom en dié mense reggemaak wat aan Christus verbind is deur geloof. Christus se selfverloënende liefde dwing Paulus om vir Christus te lewe en te werk. Hy dring ook by sy lesers aan om as versoende kinders van God te lewe, nie meer vir hulleself nie, maar vir Hom wat vir hulle gesterf het en uit die dood opgewek is. Hy verwys na sy aansienlike uithouvermoë onder baie slegte omstandighede, soos dienaars van God behoort te doen. Met sy voorbeeld probeer hy om sy liefde vir hulle te bewys, en vra ook dat hulle hom sal liefhê. Hy waarsku hulle dat die genade van God wat hulle ontvang het, tog nie tevergeefs moet wees nie, maar om die sedelike gevolge daarvan toe te pas, deur met die afgodery en boosheid van die heidendom te breek, en ons in gehoorsaamheid aan God volkome aan Hom toe te wy.

Paulus se vreugde oor die gemeente se gunstige reaksie (7:2-16)

Nadat Paulus sy bediening van die wonderlike boodskap van God se vergifnis verdedig het, keer hy terug na wat hy in hoofstuk 2 geskryf het oor sy ‘tranebrief’ en Titus se besoek aan die gemeente. Titus se verslag oor hulle reaksie, dat hulle berou gehad het wat tot bekering gelei het, het vir Paulus groot verligting van sy bekommernisse oor hulle gebring, sowel as ‘n volle vertroue in die Korintiërs en uitbundige vreugde oor die versoening tussen hom en hulle.

Die kollekte vir die armes in Jerusalem (8:1-9:15)

Paulus moedig die Korintiërs aan om hulle gawes weer aan die gang te kry. Hy wys hoe die genade van God gewerk het in die vervolgde gemeentes van Masedonië, naamlik Filippi, Tessalonika en Berea. Hulle het hulleself aan die Here gegee en gesmeek om deel te neem aan die sorg vir die armes in Jerusalem. Uit hulle uiterste armoede, het hulle bo vermoë mild bygedra.

Paulus stuur Titus en twee medegelowiges om die Korintiërs te help om hulle bydrae te voltooi as ‘n bewys van die egtheid van hulle liefde vir ander gelowiges in nood. Hy herinner hulle hoe arm Christus geword het om hulle te verryk. Dit is ons voorbeeld. Elkeen se bydrae moet volgens sy middele wees. Hulle oorvloed moet Jerusalem se materiële tekort aanvul.

Elkeen moet self besluit hoeveel om te gee, nie met teësin of uit dwang nie, want God het die blymoedige gewer lief. Wie karig saai, sal karig maai; en wie volop saai sal volop maai. God kan hulle alles in oorvloed skenk om genoeg van alles te hê om volop by te dra vir elke goeie werk. Daardeur sal die ontvangers God oorvloedig dank.

 

Skrywer: Prof Francois Malan