2 Korintiërs (4)

2 Korintiërs (4) – Francois Malan

Nuwe probleme in Korinte (10:1-13:10)

Dié vier hoofstukke word beskou as ‘n aparte brief, wat Paulus geskryf het nadat hoofstukke 1-9 gestuur is, op grond van die stuk se literêre eenheid en van Paulus se veranderde streng verdedigende toon teen nuwe teenstanders [Sommige verklaarders dink al 13 hoofstukke was een brief, maar dat Paulus 10-13 bygevoeg het toe hy verder nuus oor die gemeente ontvang het].

Paulus reageer op kritiek (10:1—11)

Hulle sê hy is gedweë by hulle, sonder die krag van die Gees. Sy briewe mag miskien die indruk van krag skep, maar met sy swak teenwoordigheid en onbekwaamheid as redenaar is hy pateties. Hy vra hulle dringend om hom nie te dwing om sy nederige optrede in navolging van Christus te laat vaar nie. Met die gesag van die Here en met kragtige wapens veg hy ‘n geestelike oorlog teen alles wat hy as teenstand teen God beskou. Hy waarsku egter dat as hy self in Korinte kom hy net so effektief sal wees as in sy briewe.

Paulus en die sendelinge wat hom probeer uitskakel (10:12-18)

Sy teenstanders is dom. Hulle beveel hulleself aan en vergelyk hulleself met mekaar. Hulle roem uitermate oor hulleself en wat hulle in Korinte bereik het, terwyl Paulus die grondlegger is in dié sendinggebied wat die Here aan hom toegeken het. Sy sukses in Korinte, vanwaar hy in die heiden-streke anderkant hulle wil gaan verkondig, is ‘n teken van die Here se beoordeling en goedkeuring van sy werk.

Paulus verdedig sy evangelie en optrede (11:1-15)

Soos ‘n vader het Paulus die Korintiërs aan Christus verloof, en hy waak om hulle rein te hou, dat hulle by die oorspronklike suiwer evangelie bly, totdat Christus, hulle bruidegom, kom. Maar hulle aanvaar geredelik die ander evangelie van die valse sogenaamde ‘baie spesiale apostels’. Hy mag ‘n swakker spreker as hulle wees, maar is hulle meerdere in die kennis van God, wat hy uitvoerig aan die gemeente geopenbaar het.

Sy teenstanders het sy weiering van finansiële steun vertolk as bewys dat hy nie ‘n ware apostel is nie. Hy het dit egter gedoen as hulle liefhebbende vader vir die voortgang van die evangelie en vir hulle geestelike verryking. Maar soos Satan homself voorgedoen het as ‘n engel van die lig om vir Eva te mislei, doen sy agente hulle voor as apostels van Christus om die gemeente te mislei, deur hulleself voor te doen as dienaars wat verkondig dat geregtigheid voor God verkry kan word deur wetswerke. Hulle sal ook deel hê aan Satan se lot.

Paulus se getuigskrifte en wense as apostel (11:16-13:13)

Hy doen ironies ‘n beroep op sy ‘wyse lesers’ om sy ‘dwase’ roem te verdra, soos hulle gretig sy dwase teenstanders se dwase grootpratery verdra, wat hulle uitbuit en hard behandel. Net soos sy teenstanders is hy van suiwer egte Joodse afkoms. Maar onvergelyklik oortref hy hulle as ‘n egte dienaar van Christus. Dit word bewys deur sy ontberings en lyding, fisiese swakheid, die las van sy verstandelike en geestelike verantwoordelikhede, en sy sorg vir die swakkes. Sy bediening was van die begin af in vernedering en skande toe hy uit Damaskus moes vlug. Sy eretekens is die littekens van sy diens. Al is hy deur ‘n hemelse gesig geroep, het Christus aan hom geopenbaar dat die gekruisigde Christus se genade en sy krag deur swakheid volbring word.

Al die beskuldigings teen Paulus het niks om die lyf nie, tog vra hy ironies vergifnis dat hy hulle nie uitgebuit het nie. As hy na hulle toe kom wil hy ook nie geld hê nie, maar hulle volle oorgawe aan Christus en vertroue op hom. Hy is steeds bekommerd oor hulle sondige gedrag. Sy bekommernis gaan oor hulle egtheid as Christene. Hy wil sy goddelike gesag gebruik om op te bou, nie om af te breek nie.

Hy beklemtoon sy solidariteit met hulle as sy medegelowiges, en doen ‘n beroep op harmonie in die verdeelde gemeente. Sy seënbede is dat die genade van Christus, die liefde van God, en die persoonlike gemeenskap met die Heilige Gees met hulle sal wees.

 

Skrywer: Prof Francois Malan