2 Korintiërs(1)

2 Korintiërs – Francois Malan

2 Korintiërs is die brief met die meeste persoonlike gegewens oor Paulus. Die groot saak van die brief is dat God ons met Homself versoen het, deurdat Jesus Christus ons sondaars se plek ingeneem het en ons in sy geregtigheid laat deel. Iemand wat aan Christus behoort, is ‘n nuwe mens. Die liefde van Christus dwing ons om ons met God te versoen, en ons met mekaar te versoen, deur mekaar te vergewe en lief te hê. 

 

 

Paulus se kontak met die gemeente (3 besoeke, 5 briewe)

 

  1. Op sy twee sendingreis stig Paulus die gemeente in Korinte tydens ‘n verblyf van amper twee jaar, 50-52 n.Chr. (Hand. 18:11,18).
  2. Op sy derde sendingreis stuur hy van Efese af die ‘vorige brief’, wat ons nie het nie (1 Kor. 5:9 verwys daarna),
  3.  By Chloë se mense hoor hy van probleme in die gemeente (1:11), ook by verteenwoordigers van die gemeente (16:17). Per brief bevraagteken die gemeente sy aanwysings (vgl. 1 Kor 7:1). Hy stuur Timoteus(1 Kor 4:17;16:10), en skryf 1 Korintiërs uit Efese in 54 n.Chr.
  4. ‘n Krisis ontstaan, gelei deur ‘n belhamel wat Paulus en sy apostelskap aanval (2 Kor 2:5-11). Timoteus kon nie die saak oplos nie, en keer terug Efese toe met dié slegte nuus (1:1; vgl. 1 Kor. 4:17; 16:10). Toe Paulus sy verslag hoor, gaan hy Korinte toe, wat vir hom op ‘n kort pynlike besoek uitloop (2 Kor 2:1).
  5. Hy skryf vir hulle ‘n brief ‘onder baie trane’, en stuur die brief wat ons nie het nie saam met Titus (2 Kor 2:3-4; 7:8,13 verwys daarna).
  6.  Bekommerd, ontmoet Paulus vir Titus in Masedonië, bly om te hoor die opstand is onderdruk (2:12-13; 7:6-16). In Masedonië skryf Paulus 2 Korintiërs 1-9, wat hy saam met Titus na hulle toe stuur (12:18).
  7.  Daarop hoor Paulus van valse apostels wat sy apostelskap betwis, en ‘n ander evangelie aan hulle verkondig (11:4-15). Hy skryf 2 Korintiërs 10-13, nog in 55 n.Chr. [Sommige verklaarders meen dit was nog voordat die eerste deel weggestuur is].
  8. Daarna besoek Paulus die gemeente vir ‘n derde keer (13:1).

In hoofstukke 1-7 verdedig Paulus sy boodskap, optrede en apostelskap.

Hoofstukke 8-9 handel oor die kollekte vir die armes in Jerusalem (Sommige navorsers beskou die twee hoofstukke as twee aparte briewe).

In hoofstukke 10-13 verdedig Paulus homself en sy werk, en roep die gemeente op om hulle lewe te verander [Sommige verklaarders plaas die laaste deel vroeër as die eerste deel].

Inleiding

In die adres (1:1-2) beklemtoon Paulus sy gesag as apostel, wat lewe en werk as gestuurde van Christus, volgens die wil van God; dat die gemeente aan God behoort, en uit ons Vader en die Here Jesus se genade en vrede behoort hulle en al die gemeentes in die provinsie Agaje heilig te lewe.

In Paulus se lof aan God (1:3-11) sien hy die Vader van Christus se doel met lyding ter wille van die evangelie. In sy barmhartigheid staan God ons in elke moeilikheid by. Daarom kan ons ander in al hulle moeilikhede bystaan, soos Paulus die Korintiërs bystaan, en deur lyding leer hulle om ander by te staan. In Asië het God vir Paulus uit doodsgevaar gered. As hulle nou vir hom bid, sal baie mense God dank vir sy genade aan Paulus.

Paulus verdedig sy optrede en bediening as apostel (1:12-2:13)

Paulus verdedig hom teen die Koritiërs se kritiek. Deur God se genade het hy altyd by hulle opgetree in opregtheid en met integriteit wat van God kom, en hy vertrou dat hy en hulle mekaar al beter sal verstaan en vertrou. Paulus word beskuldig dat hy wispelturig is, omdat hy nie sy beloofde besoek nagekom het nie. Dit maak egter nie sy boodskap ongeldig nie. Sy boodskap se egtheid word bekragtig deur God, wat steeds vir Paulus saam met die Korintiërs in gemeenskap met Christus as sy kinders bevestig, en hulle toerus met sy Gees wat in hulle woon as waarborg van sy seën.

Hy wou ‘n herhaling vermy van sy vorige besoek, wat ‘n hartseer geleentheid was. Daarom het hy onder baie hartseer trane vir hulle geskryf om sy liefde vir hulle te betuig. Aangesien die gemeente nou opgetree het teen die man wat die opstand teen Paulus gelei het, vra Paulus hulle om die belhamel te vergewe en hulle liefde vir dié man te bevestig.

Deur vergifnis en liefde word die eenheid van die kerk herstel.

 

Skrywer: Prof Francois Malan