2 Mei: Jou verleentheid mag God se geleentheid wees. – Jan van der Watt

Joh 8:48-9:23 (fokus 9:1-23)

God se somme werk anders as ons s’n. Een sonde is nie gelyk aan een straf nie.

Die lewe is nie altyd voorspelbaar soos ‘n optelsom nie. Soms kan jy nie aan ‘n enkele rede dink waarom dinge vir jou so verkeerd loop nie… dit loop net verkeerd – soos met hierdie blinde man. Selfs Jesus se dissipels het gedink dat een of ander vreeslike sonde agter sy blindheid moet lê. Ja, hy betaal vir wat hy verkeerd gedoen het.

Dan kom die verrassing – God se optelsom werk nie so nie. As hierdie man nie blind was nie, hoe sou mense God se krag kon sien? Dikwels gebeur iets wat vir jou sleg voel juis sodat God soveel wonderliker dinge daaruit kan laat voortborrel. Op die oomblik dat dit sleg gaan is die miskien nie so lekker nie, maar as God se krag die sleg in iets wonderliks verander, word alles sommer die moeite werd. Toe hierdie blinde se oë oopgegaan het, het nie net sy oë oopgegaan nie, sy hart het ook sommer oopgegaan en hy het Jesus gevind (9:38).

Ons verleenthede word dikwels God se geleenthede (9:3-5). Dinge wat verkeerd loop hoef nooit vir jou soos die einde van die pad te voel nie. Saam met God is daar altyd die ander kant, daar waar die lig skyn, waar jou oë oopgaan en ‘n nuwe toekoms vir jou wink. Moet nooit in jou probleme vaskyk nie. Sien liewer dit raak wat saam met God vir jou voorlê.