2 November: Moenie verdwaal nie; volg die regte Gids. – Jan van der Watt

Heb 7:11-28 (fokus 7:18-25)

Min dinge is so sleg as om te verdwaal. Dit laat jou heeltemal hopeloos voel. Nie een rigting lyk later vir jou reg nie, en tog lyk alle rigtings reg. Dan is niks so lekker as om iemand te kry wat jou die pad kan wys nie.

Alle mense is eintlik maar in ʼn sekere sin op reis na God. Ek wonder wat ʼn mens sal sien as jy deur die oë van God na hierdie mense op reis kyk? Onder die mense sal jy beslis ʼn malende rigtinglose massa sien: Mense wat maar net in sirkels al om hulle self en eie dingetjies draai, omdat hulle geen ander rigting ken nie. Hulle soeke na God bring hulle keer op keer maar net weer by hulleself uit. Hulle staar so in hulleself vas dat hulle nooit vir God sal raaksien nie. Daar is ander wat weer ywerig soek, maar nie vind nie, omdat hulle geen gids glo nie. Hulle stry so oor die pad, dat hulle vergeet om die pad te stap. Hulle wonder so oor watter gids die waarheid praat, dat hulle na niemand luister nie. Jy sal ook mense sien wat in die regte rigting loop, maar onseker begin terugkyk en selfs omdraai. Die twyfel oorweldig hulle keer op keer. Dikwels stap hulle meer terug as vorentoe.

Gelukkig is daar ook mense wat in die regte rigting stap. Hulle het die Gids gekry en volg Hom gelowig – die Een wat die pad ken, omdat Hy die pad na God toe vir ons gemaak het (7:25). Dit is Hy wat gesê het: “Ek is die weg na die waarheid en die lewe” (Joh 14:6).