20 November: Kyk reg na nader mense. – Jan van der Watt

Jak 3:13-18 (fokus 3:13-18)

Die geheim van ‘n suksesvolle lewe begin by jou oë; by die manier waarop jy na die lewe kyk en hoe jy dan reageer. Ja, jou reaksies en dade word gebore uit jou manier van kyk en dink oor dinge. Jakobus sê ‘n mens kan op twee maniere na die lewe kyk. Dit sien jy sommer in wat mense doen.

Jy kan op ‘n menslike manier na dinge kyk. Dan is geld, status, eie belang, en sulke dinge vir jou belangrik. Daaraan meet jy dan alles wat jy doen. Dit is dan dat jaloesie en selfsug maklik die stuur van jou lewe kan oorneem, want hoe meer jy het, hoe meer wil jy hê. Dan gee jy nie eintlik om om na ander te hap en jou eie saak te bevorder deur allerhande leuens te vertel nie (15-16); dit alles net omdat jy verkeerd kyk – daarom ook dat jy verkeerd reageer.

Maar daar is ook ‘n goddelike manier van kyk, deur uit God se perspektief na dinge te kyk. Dan begin mense skielik vir jou al hoe belangriker word – jy gee om vir hulle. Jy begin vir hulle dinge doen sonder om iets terug te verwag, want God het alreeds so baie vir jou gedoen. In plaas daarvan om op hulle te trap, wil jy hulle help. Jaloesie verdwyn uit jou woordeskat en woorde soos liefde en geduld word met hoofletters geskryf.

Maar jy begin ook op ‘n ander manier na jouself kyk. Jy kry ‘n rustigheid in jouself omdat jy jouself sien soos God jou gemaak het. Daarom kan jy tevrede wees soos jy is. Jy hoef niks voor te gee nie. Soos jy voor mense is, so sal jy agter hulle ook wees. Dit pla jou nie dat iemand anders meer talente of status het as jy nie. As God dit vir hom wil gee, is dit goed. Dit is buitendien nie vir jou om te besluit wat God vir ander wil gee en wat nie. Hierdie is nogal ‘n ander lewenstyl as die persoon wat op ‘n menslike manier na dinge kyk.

Kyk reg, kyk deur die bril van God na die lewe… en jou lewe sal in vrede en rustigheid toegevou word, ‘n rustigheid en vrede wat net God kan gee.