21 Desember 2011

21 Desember 2011 – Jan van Der Watt

W van Wyk vra:

Wat is die betekenis van 21 Desember 2011?

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Dit is nie heeltemal duidelik wat jy oor die datum wil weet nie. Natuurlik is daar herhaling van 1 en 2 in patrone. Die Bybel sê egter niks daaroor nie. As ons probeer om iets oor sulke datums uit die Bybel af te lei, kan dit suiwer afleidings wees wat ons self maak en moet ons versigtig wees om dit nie aan die Bybel te koppel nie. In die Bybelse tyd het die datums soos ons die skryf nog nie eers bestaan nie. Dit het eers baie later gekom.

Dit bring ons by soortgelyke vraag, naamlik die voorspelling van dinge wat op spesiale datums sou gebeur. Dit is deur die eeue baie bekend.

Deur die geskiedenis was daar baie sogenaamde ‘profete’ wat gesê het: ‘ek het ‘n visioen gehad, of die Here het dit aan my openbaar. Ander gebruik weer hulle vindingrykheid om hulle voorspellings oor datums waarop daar spesiale dinge gaan gebeur, geloofwaardig te maak.

Hulle kry ook altyd ‘n groepie mense wat glo wat hulle sê en tot op hede nog elke keer hulle fout agtergekom het. Ons weet al baie lank van mense wat probeer voorspellings maak:

* Tukonius het in die vierde eeu geleef. Hy het gesê dat die wederkoms in 381 gaan plaasvind. Drie en ‘n half is natuurlik ‘n belangrike getal in Openbaring. Dit dui ook gewoonlik op ‘n tydperk waarin die bose gaan moeilkheid maak. Wel, drie en ‘n halwe eeue is 350 jaar. Jesus was 31 wat ‘n mens 381 gee. Die jaar 381 moet dus die jaar van die wederkoms wees. Waarom dit drie en ‘n half eeue is, is maar net om in te pas by Tykonius. Hy het in daardie tyd geleef.

* Joagim van Fiore (1135-1202) het ook nie op hom laat wag nie. Drie en ‘n half jaar is 1260 dae (dertig dae in ‘n maand). Daarvan praat Openbaring (byvoorbeeld 11:3 of 12:6). Daarom is ‘n goeie tyd 1260 nC. Sy voorspelling het ook nie gewerk nie.

* Daar het dikwels sterk emosie met die voorspellings saamgegaan. In die noorde van Duitsland het Hoffmann (1500-1543) sy volgelinge oortuig dat die wederkoms in 1533 gaan plaasvind. Die mooi universiteitsdorpie Münster, in Noord-Duitsland, is as die nuwe Jerusalem geïdentifiseer. Daar was groot konflik waarvan die tekens vandag nog daar is. As ‘n mens langs die kerk staan sien ‘n mens nog die staalhokke aan die toring hang waarin mense opgehang is vir die aasvoëls om te vreet.

* Miller (1782-1849) het die wederkoms op 1843 gestel. Hy het Daniël 8:14 as basis gebruik: “Twee duisend drie honderd aande en oggende. Dan sal die heiligdom herstel word.” Die 2,300 dae het hy omgeskakel in jare en toe van Daniël se lewe af vorentoe getel. Dit het by 1843 uitgekom. Sy volgelinge, wat hierdie voorspelling meer as die Bybel geglo het, moes sien dat hulle groot profeet ook maar net voete van klei het.

* Die Jehova-getuies is ook bekend vir hulle voorspellings. Russell, hulle stigter, het gesê die 1000 jaar van Jesus se heerskappy sal in 1914 begin. Toe dit nie sigbaar gebeur het nie, het hulle gesê dit is onsigbaar. Later het hulle 1975 as die datum aangewys, maar ook sonder sukses.

* Daar is nog ritse ander voorspellings. Daar is al glad gesê dat God op Kanaal 18 sal verskyn op 31 Maart 1998. En dan is daar die jaar 2000. Die millenium is besig om te draai! Dit is mooi afgerond en alles is reg vir groot veranderings. Tekens van oorloë, aardbewings, magte en rekenaars wat ons lewens gaan oorneem word ywerig nadergehark. Dit moet nou wees! reken baie. Kyk maar net op die internet na die profete wat hulle opinies en voorspellings via die satelliet en rekenaar tot in die huise van elke potensiële leser stuur. Jy moet net ‘n ding genoeg herhaal, dan glo mense jou…

Die probleem is egter dat hierdie voorspellings deurgaans nie net verkeerd was nie, maar dat baie mense ook baie seergemaak is daardeur. Mense het al hulle lewens daarvoor opgeoffer, letterlik en figuurlik. As jy vas geglo het iets kom van God af en God se ‘profeet’ sê dit vir jou en niks werk uit nie, bly daar min van jou geloof oor. Dit is amper asof jy voor moet begin, maar hierdie keer is dit net baie swaarder.

Wees dus versigtig om met datums te speel.

Outeur: Prof Jan van der Watt