21 Julie: God verander nie jou omstandighede nie. Hy verander jou. – Jan van der Watt

1 Kor 7:10-24 (fokus 7:17-24)

 God verander nie noodwendig jou omstandighede nie, Hy verander jou om juis daardie omstandighede behoorlik te kan hanteer.

Ons probeer dikwels van die Here ons privaat straatveër maak. Waar ons loop moet Hy sorg dat dit skoon is en dat ons nie struikel nie. Natuurlik is dit nie die Here se werk nie. Die Here werk nie met strate nie, Hy werk met mense. Hy verander jou om op enige straat te kan loop en selfs as daar nie meer ‘n straat is nie, nog staande te kan bly.

Ja, die Here verander jou om situasies behoorlik te kan hanteer. So is Hy seker dat geen situasie jou sal kan platslaan nie. Ongelukkig kyk ons dit dikwels mis. Ons is baie geneig om ons situasie en selfs vir God of ander mense die skuld te gee as dinge nie is soos ons dit wil hê nie. Dan raak ons vinnig baie ontevrede met ons situasie. Ons pak onsself dan so toe met klagtes en foutvindery dat ons knieë uiteindelik knak.

Ons moet liewer by God die krag kry om in die situasie die beste te doen wat ons kan. Sien dit so: as jy aan die Here behoort, is jy in sy hand. En op hierdie oomblik is die plek waar God jou vashou, die situasie waarin jy nou is. Dit is waar Hy jou nou wil hê. Die geluk is dat jy nie alleen daar is nie, maar dat Hy by jou is. En solank Hy by jou is, is die krag genoeg. Met God by jou sal die situasie jou nie oorleef nie, jy sal die situasie oorleef.

 Geen situasie is so groot dat jy dit nie kan hanteer nie, nie as die Here by jou is nie.