23 Februarie – Hoe kan jy op ‘n foto saam met Jesus wees?. – Jan van der Watt

Mark 10:32-11:11 (fokus 10:35-45)

 ‘Jesus antwoord. “Die pad wat vir My voorlê, is bitter swaar. Dit is soos ’n beker vol smart en seerkry wat Ek moet drink. Ek dink nie julle sal dit saam met My kan drink nie.’ (10:38)

 

Die dissipels het nie mooi besef wat in Jerusalem vir Jesus voorlê nie en dit nog minder verstaan. Hulle het iets heeltemal anders verwag as wat uiteindelik gebeur het. Hulle het gedink Jesus gaan die Romeine onderdrukkers uit Jerusalem verwilder en Pontius Pilatus se plek op die troon vat. Juis omdat hulle nie reg oor Jesus gedink het nie, kon hulle ook nie reg oor hulleself dink nie. Hulle grootste bekommernis oppad Jerusalem toe was wie van hulle die beste plekke gaan kry as die “foto’s” van die “nuwe Koning met sy vriende” in Jerusalem geneem gaan word (10:37). Dit terwyl Jesus oppad kruis toe is! Hulle verwag ‘n troon – Jesus gee vir hulle ‘n kruis.

Die begeerte om deur ander raakgesien te word kan jou snaakste dinge laat doen. Status en die handeklap van mense kan ‘n mens nogal bedwelm. Dit kan jou so aan jouself laat dink dat jy van ander belangriker dinge begin vergeet…, ja, dit kan jou so na jouself en jou eie drome laat staar dat die werklike lewe by jou verbygaan.

As ons na die storie van Jesus kyk, is die enigste Een wat uiteindelik regtig “raakgesien” is, Jesus; nie omdat Hy daarna gesoek het nie, maar omdat ons sonde Hom hoog aan die kruis laat hang het. Daar kon almal Hom sien. Op daardie “foto” was net Hy en twee onbekende sondaars; ons ken nie eers hulle name nie. Hulle is onbekend, want hulle is ook eintlik ek en jy. Die een het Jesus om hulp gesmeek… die ander het sy rug op Jesus gedraai. Vir altwee het Jesus ‘n boodskap gehad: vir die een aan die een kant wat Hom aanvaar het, was daar plek in die Paradys. Vir die ander een aan die ander kant wat selfs op daardie oomblik nie sy oë na Jesus wou draai nie, was dit maar net slegte nuus.

As jy nie die beste plek op ‘n troon soek nie, maar bloot wil wees waar Jesus is, kom jy op sy “foto”. Sorg net dat jou plek aan die regte kant is! Dan sal daar nie vir jou verrassings wees soos vir die dissipels nie.