23 November: Geduld is nodig.– Jan van der Watt

Jak 5:7-20 (fokus 5:7-12)

Geduld is ‘n eienskap wat al hoe skaarser word hoe besiger ons wêreld raak. Ons kan nie meer wag dat dinge gebeur nie; ons moet dit láát gebeur. Vir geduld en ‘n gewagery is daar nie meer plek of tyd nie. Wat moet gebeur moet nóú gebeur. Jakobus wil ons uit die natuur ‘n ander les leer: soos ‘n boer kan ons niks ryp druk nie. Ons moet geduld hê en dinge kans gee om hulle gang te gaan (7-8). Ons weet tog dat as jy iets ryp probeer druk, druk jy dit eintlik vrot.

Ongeduld werk maklik deur na ons persoonlike verhoudings toe. Ons het net nie meer die geduld wat ons moet hê met die mense wat naaste aan ons is nie, want ons is te besig. Alles wat nie presies reg is nie, irriteer ons en dan is dit nie lank voor dinge tot uitbarsting kom nie. Geduld is God se resep om dit te keer. Ons moet onsself die tyd gun om na ons huweliksmaat of kind of broer of suster te luister, regtig te luister. In ‘n gejaagde lewe vat dit geduld. As my boekie oorloop van afsprake en ek sien my huweliksmaat vra desperaat vir aandag, moet die boekie maar verder oorloop… dit vra ook geduld. Ja, geduld maak vir ander plek, saai vir hulle rose waar daar eintlik dorings moes lê. Geduld is iets wat binne in jou gebeur. Dit is om jou prioriteite en emosies te herorganiseer sodat daar tyd is… tyd vir ander, tyd vir jouself en tyd om te wag. Met ons besige lewens het ons verleer dat dit soms ook goed is om net te wag… geduldig te wag dat dinge gebeur.

In ons geestelike lewe is geduld net so belangrik. Alles gebeur nie oornag nie. Dikwels stap die Here ‘n lang pad met ons voor ons by ons bestemming uitkom. Op die pad mag ons ongeduldig raak omdat dit nie vir ons lyk of “dinge” gebeur nie, maar ons moet die Here geduldig die kans gee om sy pad met ons te stap. Uiteindelik kom ons baie ryper anderkant uit, want op die langer pad het ons soveel meer geleer.

Geduld is nodig… om nie dinge ryp, nee, vrot te druk nie.