23 September: Laat jou vingers deur God se skatte gly. – Jan van der Watt

Kol 1:21-2:8 (fokus 2:1-8)

Baie van die slaapstories wat ons vir ons kinders vertel (of stories wat Hollywood vir grootmense vertel) gaan oor een of ander dapper man of vrou wat ʼn groot skat gaan soek. Hulle ontbeer gewoonlik die verskriklikste dinge om by die skat uit te kom. Ai, die skitter van goud… mense bly maar daaroor droom. As daar net genoeg munte in ons sak klingel om ons vingers deur te laat gly, dink ons die vreugdeklokke gaan vir ons lui.

God het ook skatte en hulle kan die vreugdeklokke regtig laat lui. Op ons reis deur die Bybel kom ons in 2:2-3 op sulke skatte van God af. Daar sien ons wat God in sy skatkis vir ons bêre. Daar “skitterblink” kennis van Hom en alles wat Hy vir ons gee en doen: die “diamant” van verlossing, die “robyn” van sondevergifnis, die “pêrel” van oorwinning, die “goud” van ʼn nuwe lewe…

En die skatkis waarin God hierdie dinge vir ons gee is Jesus (2:3). By Hom kry ons alles wat kosbaar is. Hy maak ons geestelike lewe ryk en ons drome waar… Dit kan vir ons net ons geestelike vreugdeklokke laat lui as ons elke dag in gebed ons vingers deur God se skatte laat gly en vir Hom baie dankie sê daarvoor.