24 Julie: Oppas vir Christen “freaks”. – Jan van der Watt

1 Kor 9:1-23 (fokus 9:19-23)

 ‘n Mens kry nogal Christen “freaks”. Hulle is so vreemd aan die samelewing dat niemand regtig soos hulle wil wees nie. Hulle wil uitstaan, ja, op allerhande manier wys hulle is anders. Dan dink hulle hulle is regtig Christene. Hulle doen soms sulke vreemde dinge dat gewone mense net hulle wenkbroue lig en een ding weet: so wil hulle nie wees nie.

Natuurlik is daar dinge wat Christene anders maak as nie-Christene, maar ons moet seker maak ons weet wat dit is. Paulus sê juis dat een van sy belangrikste maniere om Christen te wees is om met die “skares saam te smelt”. Hy lyk soos een van hulle en leef normaal tussen hulle (9:20-22). Dit maak tog nie vir die Here saak wat se klere hy dra, of hoe hy eet of waar hy inkopies doen nie. As sulke dinge jou nader aan ander mense bring sodat jy die kans kry om hulle aan jou vriend Jesus bekend te stel, hoekom nie? As jy daar eenkant staan omdat jy kamma so anders is en almal lag vir jou gaan niemand ook in jou vriend belangstel nie.

Hier is die sleutel: jy moet aanpas en inskakel… maar net tot op die punt waar Jesus nog saam met jou sal wil gaan. Dit help nie jy skakel so in dat Jesus agterbly nie. Dit vra fyn aanvoeling en balans van jou. Jy moenie te ver gaan nie, maar jy moet ook nie te ver wegbly nie.

As jy wonder… vra Jesus om jou te help om reg op te tree. Hy is immers die Een wat saam met jou moet gaan.