24 Oktober: Werk hard, maar speel ook hard. – Jan van der Watt

Titus 2:1-14 (fokus 2:9-10)

 Deel van ons Christenskap is om eerlik en hard te werk. En daar is goeie rede voor. Die Here vra van ons kwaliteite soos lojaliteit, eerlikheid, of betroubaarheid. As ‘n mens dit by die werk is, sal jy goed werk. Dit kan eintlik nie anders nie. Maar ‘n mens kan dit ook oordryf, soos die baas by die werk wat by die sekretaresse verbystap en sê: “Waarom antwoord jy nie die telefoon nie?” Sy antwoord verleë: “Dit lui dan nie”, waarop hy reageer: “Moet jy ook alles tot op die laaste oomblik los?” Dit is die gevaar, naamlik dat ons só lojaal en betroubaar kan wees, dat dit belaglik begin raak.

‘n Christen moet hard werk, maar moet ook ‘n gebalanseerde lewe lei. Werk is nie alles nie, maar is ook nie niks nie – dit het ‘n plek en jy as gelowige moet alles in jou lewe mooi opweeg om daardie plek presies te vind: nie te veel nie en ook nie te min nie. Jy moet hard werk, maar ook hard speel. Jy moet lojaal wees teenoor jou werk, maar ook teenoor jouself. Dit is die geheim van ‘n gebalanseerde lewe: om plek te gee vir alles wat belangrik is. As die een ding die ander se tyd en plek begin vat (soos as die werk miskien die gesin of jou fisiese oefening se tyd begin vat) moet jy vrae begin vra oor jou prioriteite. As jy een ding té goed begin doen, begin jy ander dinge afskeep… dan doen jy dit té sleg. Oppas daarvoor. Soek konstant die balans in jou lewe.

Ons lewer ‘n getuienis by die werk (9-10) deur eerlik en lojaal te werk. ‘n Dwarstrekkery, gestry, onvergenoegdheid en sulke dinge pas nie by ‘n Christen nie. Christene moet getuienis lewer deur die positiwiteit waarmee hulle dinge doen. Maar net so het ons ook ‘n getuienis teenoor ons gesin, kinders, en onsself. Moenie die een ter wille van die ander verwaarloos nie.