24 September: Skuldgevoelens is nie nodig nie. – Jan van der Watt

Kol 2:9-17 (fokus 2:9-17)

Reis en rekeninge is groot vriende, dit weet ons. Ons ken daai depressiewe gevoel as ons na ʼn reis of vakansie die kredietkaartrekening kry wat ons laat steier. Daai snaakse vlaggie of lelike poppie wat ons iewers ten duurste gekoop het en wat nou iewers onder in ʼn kas lê, laat ons nou twee maal sluk.

In 2:14 lees ons dat God ook rekening hou van die skuld wat ons op ons reis deur hierdie lewe maak. Dit is nou sekerlik rekeninge wat ons sal laat steier as ons dit sien. En rekeninge moet betaal word. Maar ons hoef nie bang te wees nie. Ons God werk anders. Aan die einde van die reis gaan ons nie daai rekening kry wat ons gaan laat steier nie. Ons gaan ʼn kwitansie kry… “Klaar betaal”. As ons rondkyk wie die vriendelike weldoener is, sien ons ons rekening aan die kruis van Jesus vasgespyker. Daar is die betaling gemaak, ja, daar is JOU betaling gemaak.

God het jou rekening vir ʼn kwitansie verruil! Moenie heeltyd met skuldgevoelens leef nie, want jy skuld niks nie. Laat jou dade liewer “dankie” oor jou lewe skryf vir dit wat Jesus namens jou betaal het.