25 April: Jou lewe kan nooit doelloos wees nie. – Jan van der Watt

Joh 4:27-5:16 (fokus 4:27-42)

 Een van die “langste” togte in my lewe – of so het dit in alle geval gevoel – was van die plaas af Amalia toe op ʼn trekker – Amalia is so ver as wat dit klink, glo my. Die mielies moes koöperasie toe en ek, toe juis ‘n brawe tienjarige – is bo-op die mieliesakke agter op die sleepwa saam. Onnodig om te sê, vier ure agter op die sakke op ‘n stofpad is ‘n oneindigheid. Tog onthou ek een ding duidelik – mieliepitte het van die geskud hier en daar van die wa afgeval. Sou hulle ooit groei of is daai saad sommer net gemors?, het ek gewonder.

Ironies genoeg het daai mielies my bygebly. Dikwels voel ʼn mens se lewenspad leeg, en ‘n soort doelloosheid oorweldig jou. Die lewe voel nie vir jou meer as net ‘n oneindige lang stofpad nie. Maar in die oë van God is sy kinders se lewe nooit leeg of doelloos nie. Vir God is dit genoeg dat daar “saad” lê waar ons pad verbygegaan het, al is dit net hier en daar. ʼn Glimlag, ʼn mooi woord van bemoediging, ʼn stukkie getuienis aan iemand wat van God vergeet het… en as die tyd ryp is, sal daai saad groei, daar waar jy dit laat val het!

Jou lewe kan nooit doelloos wees nie, nie solank jy ‘n glimlag het, of ‘n bietjie geduld, of ‘n bemoedigende woord vir iemand anders nie. Dit is die saad wat in God se hand honderdvoudige oes oplewer, maak nie saak waar dit geval het nie. Probeer dit.