26 Julie: Moenie die vreugde van die lewe misloop nie. – Jan van der Watt

1 Kor 10:14-11:1 (fokus 10:23-33)

Dit is ‘n wonderlike voorreg om die God te aanbid wat alles gemaak het, om die eenvoudige rede dat alles syne is. As ons musiek speel, kan ons dit geniet, want God het musiek gemaak. As ons kos eet hoef ons nie bang te wees dat daar allerhande bose geeste in is  nie, want God het dit ook gemaak. Ja, ons kan regtig alles geniet met ‘n lied in ons hart, ‘n lied wat die hele tyd vir die Here dankie sê vir alles wat Hy vir ons gee (10:31). Ons kan dit net geniet.

Ons moet egter veral vir twee afdraaipaadjies versigtig wees:

  • Die een afdraaipaadjie is om te vergeet dat die Here alles gemaak het vir ons om te geniet. Ons begin dan weghardloop vir alles en gaan kruip in ‘n koekon van wette weg. Oppas vir dans… jy mag nie daai musiek speel nie… jy mag nie dat in jou huis hê nie en so aan. Moenie dat die wonderlike geleenthede wat die Here vir jou in jou lewe geskep het by jou verbygaan omdat jy in ‘n koekon van wette lê en wegkruip nie.
  • Dit gesê, moet ons ook die ander sy onthou. Daar is dinge waarvoor jy maar versigtig moet wees en liefs moet vermy. Die tweede afdraaipaadjie is om dit wat die Here vir jou gegee het verkeerd of sleg te gebruik. Jy gebruik dit nie om God gelukkig te maak nie, maar om ander mense seer te maak of te laat struikel. Oppas daarvoor. Jy kan nie die Here se skepping gebruik om af te breek of stukkend te maak nie.

Moenie die vreugde van die lewe misloop nie. Geniet dit op die regte manier. Probeer om nie ander mense of veral God seer te maak met die manier waarop jy leef nie.