27 September: Jesus is ook op jou gesinsfoto. – Jan van der Watt

Kol 3:12-4:1 (fokus 3:18-4:1)

Daar is min dinge wat op reis jou hart so met ʼn punt kan laat trek en die knop in jou keel so vinnig groter kan laat word as ʼn fototjie van jou gesin daar ver by die huis. Dit is jou mense en jy hoort eintlik by hulle.

In 3:18-4:1 kry ons so ‘n gesinsfoto van ʼn tipiese Christelike gesin. Paulus praat van vroue, mans, kinders, werkers en so aan – almal is daar. Op die oog af lyk die foto maar doodgewoon en of daar niks snaaks op is nie, tot ons dit so bietjie van nader bekyk. Daar op die foto, so tussen en by almal staan Jesus ook. En Hy hou almal bymekaar, want ons gesin is sy gesin ook. Hy wil deel wees van alles wat ons is en doen en dit is juis wat so ‘n gesin “Christelik” maak. In die gedeelte (3:18-4:1) loop die woord “Here” soos ʼn goue draad deur feitlik elke sin – dit word aan feitlik elke ander naam vasgebind. So wil die Here sy gesin gerusstel – Hy is by elke lid van die gesin en is vir elkeen daar. Daarom moet elke lid van die gesin ook naby Hom bly. Dit help mos nie dat die Here daar is en ons steur ons nie daaraan nie. Nee, ons moet na mekaar toe leef. Daarom kan en mag niks in die Christelike gesin sonder Hom gebeur nie – Hy wil en moet deel daarvan wees. In ʼn Christelike gesin het Jesus altyd ʼn plek. Dit maak die Christelike gesin spesiaal, want hulle doen alles saam met Jesus.

Dra Jesus se foto saam met jou in jou geestelike binnesak… en as jy onseker raak of begin twyfel, haal dit uit en kyk daarna. Dan sal jy sien jy is nie alleen nie – Jesus is by jou; Hy is en bly deel van jou lewe. Daaraan hoef jy nooit te twyfel nie.