28 Februarie – Wat gebeur moet gebeur. – Jan van der Watt

Mark 14:1-42 (fokus 14:32-42)

 My liewe Vader,” het Jesus begin, “U kan doen net wat U wil, want U kan alles doen. Is daar nie ’n kans dat al hierdie vreeslike dinge nie met My hoef te gebeur nie? Ek probeer U nie voorskryf nie. As U wil hê dit moet gebeur, laat dit dan gebeur. Doen asseblief wat U wil.”’ (14:36)

 

Gebed mag nooit ‘n manier word waarop ons die Here probeer manipuleer nie. Soms sê mense mos dat die Here gesê het Hy sal gebede verhoor en daarom MOET hy doen wat ons sê. Ons mag dit miskien so verstaan, maar dit is nie heeltemal wat die Here bedoel het nie.

Dit het eenmaal op die golfbaan begin reën terwyl die dominee en ‘n lidmaat met die spannendste deel van die spel besig was. “Dominee, trek ‘n paar toutjies sodat die reën kan ophou”, sê die lidmaat. Die dominee se vinnige antwoord was: “Ek is net in verkope, nie in die bestuur nie”. Dit is ‘n groot waarheid: ons kan God nie ‘bestuur’ nie.

Ons kan nie vir God voorskryf wat Hy met gebede moet doen nie. Ons kan ook nie toutjies trek of God manipuleer nie. Jesus het dit nie eers gedoen nie, wat nog van ons (14:36). Gebed werk eenvoudig nie so nie.

Wat ons wel in Jesus se gebed in 14:36 sien, is ‘n openheid om met ons hemelse Vader te praat. Ons kan ons harte voor Hom oopmaak en sê hoe ons voel sonder om bang te wees dat Hy ons daaroor sal kwalik neem. ‘n Mens kan amper sê dat die Here meer in ons intieme verhouding en toewyding aan Hom belangstel as in die presiese woorde van ons gebed. Gebed is in wese nie ‘n inkopielysie nie, maar ‘n verhouding wat verdiep.

Maar ons sien ook Jesus se bereidwilligheid om die saak by die Vader te los en sy beslissing te aanvaar, al sou dit nie die antwoord wees wat gevra is nie. Met die eerste les sukkel ons gewoonlik nie, maar met hierdie tweede les het ons dikwels probleme. Ons wil hê God moet maak soos ons wil. Ons wil maar toutjies trek… En dit is gewoonlik so omdat ons dink in terme van ‘n inkopielysie en nie aan die wonder van die verhouding met en nabyheid aan God nie – want dit is eintlik wat gebed is.